Groot ongelukkigheid heers onder opposisiepartye in die Langeberg-munisipaliteit nadat die 2025-’26-begroting Woensdag 28 Mei aanvaar is.
Die Vryheidsfront Plus, die ANC, GOOD en die Patriotic Alliance (PA) se raadslede het in protes dat die vergadering nie met sewe dae uitgestel is nie, die raadsaal verlaat voordat raadslede oor die begroting gestem het. Dit is uiteindelik aanvaar nadat die DA, die People’s Democratic Movement (PDM) en die Langeberg Independent Party (LID) ten gunste daarvan gestem het.
Die opposisie het uitstel versoek om hulle die geleentheid te gee om deur die konsepbegroting te werk. Raadslede het die lywige dokument van 1 450 bladsye blykbaar eers die middag voor die raadsvergadering ontvang.
Volgens Johnny Steenkamp, die hoofsweep van die Vryheidsfront Plus, bepaal die raad se reëls dat dit ten minste 48 uur vooraf beskikbaar gestel word.
“Ons ouditeure het deur die nag gewerk om deur die dokument te lees.”
Sewe partye is in die Langeberg-munisipaliteit, wat altesaam 23 setels (stemme) het. Die begroting is met 12 stemme goedgekeur: DA (10), Langeberg Independent Party (1) en PDM (1). Die partye wat nie gestem het nie, was die ANC (6), VF Plus (3), GOOD (1) en PA (1).
Opposisiepartye, sakelui en gemeenskapsorganisasies het in die openbaredeelnameproses glo meer as 80 foute in die begroting uitgewys en daar was kommer dat dit nie betyds reggestel is nie.
Die VF Plus, die derde grootste party in die raad naas die DA en ANC, sê hy is bekommerd oor die munisipaliteit se finansiële bestuur omdat die kapitaalreserwes krimp. In ‘n verklaring sê die VF Plus die invorderingskoers het van 98% tot 88% gedaal en die rekening-stelsel wat in duie gestort het, deels hiervoor verantwoordelik is.
Die VF Plus beskou die 8%-verhoging vir vullisverwydering as onbillik. Die vervoer van vullis na die nuwe streeksvullisterrein in Worcester en die aankoop van vier nuwe voertuie hiervoor is die rede vir die styging. Die VF Plus meen dat geskikte grond vir ‘n nuwe vullisterrein nader beskikbaar is.
Die styging van elektrisiteit (11,32%) maak volgens hom nie op vir die beraamde verlies van 18% as gevolg van kragdiefstal nie.
Water, riool en eiendomsbelasting styg met 6%. “Dié verhogings is meer as dubbel die huidige inflasiekoers en is buitensporig. Inwoners kan dit nie bekostig nie,” lui die verklaring.
Slegs 4% is vir instandhouding en infrastruktuur begroot.
Die koalisie tussen die DA en VF Plus het verlede jaar verbrokkel nadat die VF Plus ook nie die DA se begroting ondersteun het nie.
Die ANC in die Langeberg sê in sy verklaring hy het die begroting verwerp omdat dit nie armes in ag neem nie. Hy beskuldig die DA van boelie-taktiek om die begroting goedgekeur te kry en dat [die opposisiepartye] nie genoeg tyd gehad het om dit te bestudeer nie. Hy is bekommerd dat geen aanduidings gegee is oor hoe die DA-koalisie beplan om die toename van Langeberg se inwonertal te hanteer nie.
“Die jaarlikse bevolkingsgroei sal na raming 1,3% wees en die huishoudelike groei 0,08%. Dit sal bykomende inkomstestrome en hulpbronne soos infrastruktuur, asook meer water, sanitasie en elektrisiteit vereis,” lui ‘n persverklaring van die ANC.
Die begroting het volgens die ANC nie ‘n plan vir behuising – veral vir armes – nie, terwyl informele nedersettings en mense wat in agterplase woon, toegeneem het.
“Die munisipaliteit het ‘n noemens- waardige inkomste-ongelykheid met 64% van inwoners wat onder die boonste broodlyn leef en die hoogste werkloos- heidsyfer (7,1%) in die Kaapse Wynlanddistrik. Tog het hy geen planne in hierdie begroting vir werkskepping wat inwoners in staat sal stel om vir die dienste wat hulle ontvang, te betaal nie.”
Die munisipaliteit het dié beweringe verwerp. Daniël Lubbe, die munisipale bestuurder, sê die begroting is voorgelê en daaroor is gedebatteer, soos wat verwag word. “Die begroting is ten gunste van die armes en beklemtoon die nodigheid om agterstande met diens- lewering in te haal en kritiese infrastruktuur op te gradeer wat tot voordeel van inwoners in die Langeberg is.”
Hy sê die raadslede het 48 uur voor die vergadering toegang tot die begroting en die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) via ‘n gedeelde skakel gekry. “Hierdie praktyk is in pas met standaardprosedures wat deur die raad goedgekeur is.”
Hy sê alle kommentare en insette wat gedurende die openbaredeelnameproses ontvang is, is oorweeg en die nodige regstellings en aanpassings is aangebring om te verseker die finale begroting dui dit aan.