Die Besigheid teen Misdaad-wedstryde sorg vir opwindende rugby en die stryd tussen Worcester Senior Sekondêr (WSS) en Hexvallei Sekondêr op 20 April was geen uitsondering nie.
Hexvallei het eerste kans gekry om punte op die telbord te sit met ’n strafskop, maar Terence Ludick se poging was mis in die sterk dwarswind.
Perseville Lukas van WSS het sy beurt kort daarna gekry en met drie punte geopen.
WSS het ook die eerste, verdoelde, drie gedruk, waarna Ronaldo Neethling van Hexvallei net voor rustyd geantwoord het met ’n drie van sy eie.
Die rustydtelling was 10-5 vir WSS. WSS het ook die tweede helfte met ’n onverdoelde drie geopen toe Devron Plaatjies oor die lyn gegaan het, met Hexvallei wat gou geantwoord het om die telling op 15-10 vir WSS te staan te bring.
Neethling het sy span gered met ’n drie wat vir sy span ’n gelykopuitslag van 15 elk verseker het.
Die o.15-wedstryd is gewen deur WSS met 12-5 en die o.16-wedstryd deur WSS met 10-8.
Vandeesweek se wedstryd op Bolandpark tussen Esselenpark Hoërskool en Hoërskool Breërivier is weens die vakansiedag verskuif na vandag (28 April).


