Raymond Wurwand, maker van die bekende skoonheidsprodukte Dermalogica, skep ter verering van sy pa, Marks (alom bekend as Max), hoop en geleenthede vir leerders van Worcester Gimnasium.
Hy het ter nagedagtenis aan Max die Marks Wurwand-wiskundeprys geskep.
Die jaarlikse Marks Wurwand- wiskundeprys is onlangs aan Hans Klüsmann oorhandig. Klüsmann se algehele gemiddelde in die 2018-matriekeksamen was 94,14%.
Hy het 98% vir fisiese wetenskappe behaal, 96% vir inligtingstegnologie en 95% vir wiskunde. Sy punt vir lewenswetenskappe was 93%, vir Engels eerste addisionele taal het hy 96% behaal en vir Afrikaans as huistaal 86%. Klüsmann is tans ’n student aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy ’n graad in Bsc wiskundige wetenskap volg.
Die prys gee erkenning aan leerders vir hul wiskundige vermoë en prestasies. “Hans was nie net in die boeke vasgevang nie, maar was betrokke by sport – veral krieket en hokkie – sowel as kultuur en selfs musiekblyspel, gemeenskapsdiens en leierskap,” sê Ian Claassens, ’n verteenwoordiger van die Bosvarkunie.
Max het in 1942 by Hoër Jongenskool Worcester gematrikuleer en Raymond het in 1966 matriek geskryf.
“Raymond het twee jaar lank, sonder sukses, werk in Amerika gaan soek. Hy en Jane, toe sy verloofde, was egter oop vir nuwe idees en uitdagings.
Hulle het ’n geleentheid gesien om in Amerika te begin met die opleiding van meer professionele skoonheidsdeskundiges,” vertel Claassens.
“In 1982 is Raymond met R14 000 Amerika toe en het hy en Jane, vandag sy pragtige vrou, begin om hul onderneming te beplan. Hulle het Dermalogica in 1986 gestig.
Vandag word Dermalogica in meer as 105 lande wêreldwyd verteenwoordig en hul produkte word in meer as 45 000 winkels, spreekkamers en ander praktyke verkoop,” sê Claassens.
Raymond verwys altyd na die grondslag vir hul sukses wat hier in Worcester en die Boland gelê is.
Die Bosvark-trust en Worcester Gimnasium bedank Raymond en die Raymond Wurwand-stigting vir die investering in leerders aan dié skool.