: ’n Ou lugfoto wat aandui hoe yl die geboue sowat 70 jaar gelede in Rawsonville gesaai was.


Daar was ’n tyd toe Rawsonville geen elektrisiteit, telefone of motors gehad het nie; toe al die paaie stofpaaie was en babas meesal in mense se huise gebore is.

Vir een inwoner is dié tyd nog helder in die geheue. Dr. Danie Joubert (101) is weliswaar die oudste inwoner van die Goudini-distrik, maar sy gesels herinner ’n mens hoe geweldig die wêreld in die laaste 100 jaar verander het.

Hy onthou die twee vleie wat die dorp begrens het – waar Agrico vandag is en aan die noordekant – voor die rivier later afgekeer en die vleie gedreineer is.

Hy gesels oor naamsveranderinge. Die plaas Grootvlakte was op ou landmeterkaarte eers Klipdrif, soos die Smalblaarrivier eers die Molenaarsrivier was.

Hy onthou ’n meulsloot wat water van die eerste brug in Du Toitskloof na Klipdrif gebring het vir die maal van koring, en ook vir besproeiing.

As seuntjie het hy die eerste gruispad voor sy oë sien vorm kry. Die gruis is met ’n stoomaangedrewe vragmotor aangery. Hy was in ’n plaasskooltjie waar Die Eike-gastehuis vandag is, ’n klipgooi van hul plaas Palmboombad, langs vandag se Goudini Spa.

Hy het grootgeword in die dae toe ’n perdekar die enigste vervoer was. Daarmee is sy gesin Ceres toe, deur Bainskloofpas en selfs so ver as Montagu.

Die eerste plaasfone het seker so 1922 gekom, vertel dr. Joubert. (Voor dit het skielike siekte in die nag beteken iemand moet perd opsaal om ’n dokter na die huis te gaan ontbied.) Dit was die dae van partylyne, toe tien of wat gesinne dieselfde lyn gedeel het. “Soms het jy gehoor die en daardie vrou het ingeluister, want sy haal van nature hard asem. Soms het jy gehoor die en daardie vrou het ingeluister wanneer die horlosie hard slaan in die eetkamer.”

Dit was ook die dae dat babas tuis gebore is. Dr. Joubert, sy broer en ’n vriend het een slag by Brandvlei gaan visvang. Toe hulle kort voor middernag besluit om huiswaarts te keer, het iemand hulle langs die pad ontmoet met die nuus dat sy skoonsuster in kraam is. By die huis gekom, was ’n dr. Van der Merwe reeds by haar, besig met die bevalling.

Dr. Joubert het vir die eerste keer by elektriese lig geleer toe hy in 1932 en 1933 in die Paarl skoolgegaan het, want in die eerste dae van elektriese krag het net die kerk en ’n paar welaf mense plants gehad. Dit was glo ’n kragbron bestaande uit ’n klomp batterye wat in ’n vertrek in die huis gehou is.

Die eerste motors het ook in die vroeë dertigerjare in Goudini aangekom. Die eerste motor met ’n opdraairuit (voorheen is deursigtige klappe gebruik om wind en reën uit te hou wanneer dit nodig was), was glo so ’n groot attraksie dat mense planne beraam het om daarna te gaan kyk.

Rawsonville was ’n boerdorpie waar mense ’n eenvoudige bestaan gemaak het. Baie het druiwe gehad en rosyntjies gemaak. Vandag word daar glad nie meer rosyntjies gemaak nie.

Oor die mense van vroeërjare sê hy dat die meeste hard gewerk het en met die minimum tevrede was. Selfs die welaf mense – soos twee prokureurs se dogters saam met wie hy Paarl toe gereis het – was tevrede om trein te ry. Van motor ry was daar nie sprake nie.

Natuurlik was die dorp ’n totaal ander plek toe dr. Joubert in 1992 teruggekeer het Rawsonville toe ná hy in Stellenbosch gestudeer en ’n groot rol in akademiese kringe by Elsenburg gespeel het.

Vandag is dit byna soos Willem Viljoen (st. 10) in die Hoërskool Goudini se Eeublad van 1958 voorspel het: “Bes moontlik sal dit (in die jaar 2000) ’n vreeslik gejaagde en gemoderniseerde samelewing wees.”

Seker so. Maar rustigheid en vrede is nog in Rawsonville te kry . . .

You need to be Logged In to leave a comment.