Talle ouers is ongelukkig omdat hulle op kort kennisgewing moes hoor dat hul kinders in die laerskoolgedeelte van die Hoërskool Tulbagh reeds in Januarie volgende jaar na die Hoërskool Waveren geskuif word.
Volgens die ouers het die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) belowe dat die twee skole eers sal saamsmelt nadat konstruksie by beide Tulbagh Hoër en Waveren afgehandel is.
Volgens Maddenia Davis, wat namens die ouers praat, is hulle op 22 November amptelik deur die WKOD van die skuif in kennis gestel.
Standard het vroeër verlede maand berig oor die samesmelting van hierdie twee skole (“Kleurvolle saamtrek voor skeiding”, 11 November). Die berig het ook daarna verwys dat die samesmelting die idee van die WKOD is.
“Ouers voel dat kinders reeds vir twee jaar weens die bouwerk by die Hoërskool Tulbagh ontwrig en getraumatiseer is. Nou wil hulle die kinders by Waveren weer daardeur sit.”
Sy voeg by hulle as ouers voel hulle word deur die WKOD mislei. Hulle wil hê die departement moet eerder by die oorspronklike plan hou ingevolge waarvan leerders eers sal skuif as die bouwerk by Waveren klaar is.
“Die Hoërskool Tulbagh het ook reeds gr.1-leerders vir 2022 ingeneem, en baie ouers het kostes aangegaan. Gesprekke in die verlede met die WKOD was net oor die hoërskoolleerders wat in 2022 na Tulbagh gaan afskuif. Niks is bespreek oor verskuiwing van die laerskool nie,” sê Davis.
Volgens Davis het Waveren se ouers in 2019 oor die onveilige skool, asbesklasse en los elektriese drade betoog.
“Tot op hierdie tydstip is nog geen opknappingswerk aan klaskamers gedoen nie, en leerders se gesondheid en veiligheid word nog elke dag in gevaar gestel.”
Sy het ook aan Standard gesê ouers wonder hoekom – indien die WKOD reeds lankal hiervan bewus was – hulle nie die ouers aan die begin van die jaar in kennis stel het sodat hulle by ander skole kon aansoek doen nie. Ouers voel ontneem van ’n keuse, aangesien skoolaansoeke reeds gesluit het.
“Ouers is meegedeel dat die studentebeheerliggaam van die Hoërskool Tulbagh op ’n vergadering met die WKOD heeltemal oordonder is. Die WKOD het geen kommer getoon oor die toestand van Waveren toe genoem is oor die gevaar van die asbes as dit platgestoot gaan word nie. Die direkteur het glo eerder gesê mense wat in huise met asbesdakke woon, het nog niks oorgekom nie. Dit wys dat die WKOD nie die impak wat dit op die leerders se gesondheid het, in ag neem nie.
“Alle leerders het die reg op onderrig wat nie hul veiligheid en gesondheid in gevaar stel nie. In hierdie geval diskrimineer hulle teen die leerders se reg om onderrig in ’n gesonde en veilige omgewing te ontvang,” voeg Davis by.
Bronagh Hammond, woordvoerder van die departement, sê in antwoord op ’n navraag van Standard daar is om en by 220 laerskoolleerders in Tulbagh, en Waveren het genoeg ruimte om hulle almal te akkommodeer. Sy voeg by dat bouwerk nie die kinders sal steur nie.
“Die huidige primêreskoolafdeling kan alle primêre leerders akkommodeer en sal nie deur konstruksie geraak word nie. Die bouwerk aan die nuwe gebou sal in Januarie 2022 begin. Dit is ’n wonderlike en opwindende inisiatief en die proses van konstruksie verskil nie van baie ander konstruksieprojekte wat voltooi is nie. Tientalle skole is op soortgelyke wyse gebou – met bouwerk wat op die eiendom plaasvind, maar weg van die skoolgeboue wat die leerders huisves. Dit sou nie moontlik wees om ’n skool anders te vervang as so ’n opsie nie bestaan het nie.”
Volgens Hammond het die departement in September, Oktober en November vergaderings met die skoolbestuur asook die studentebeheerliggame gehou om hierdie kwessie te bespreek. Sy sê die voorsiening van skoolfasiliteite in Tulbagh word al die afgelope twaalf jaar bespreek en beplan, en dit is deur belanghebbendes goedgekeur.
Hammond sê ook hierdie is nie ’n samesmelting nie.
“Die proses is om die primêre leerders uit die ‘hoërskool’ na ’n ‘laerskool’ te skuif. Daar is ’n proses reg deur die land om leerders in óf ’n hoër- óf ’n laerskool te akkommodeer, waar moontlik, in plaas van die gekombineerdeskool-scenario,” sê sy.
Die Hoërskool Tulbagh, volgens Hammond, sal voortaan net ’n hoërskool wees en Waveren net ’n primêre skool.