Leerders van HTS Drostdy se toneelgroep het onlangs ’n goeie toneelstuk, Liefde 2040, vir ’n groep bejaardes opgedis.
Meer as 250 oues van dae het die saal Woensdagmiddag 14 Augustus gevul.
Die geleentheid word jaarliks by Drostdy aangebied en die bejaardes kom van Worcester, Villiersdorp, Montagu, De Doorns, Ceres, Rawsonville en Robertson.
Die program was propvol vermaak en daar was verskeie bederfies vir die bejaardes. Die geleentheid is met die nuutvrygestelde enkelsnit, Liefdesdraers, van ds. Stefaans Burden en Philip Alberts, ’n gr. 11-leerder aan Drostdy, geopen.
Die talentvolle Zak van der Merwe het die gehoor vermaak met ’n gedramatiseerde prosa, Die ding op die stasie.
Liefde 2040 is onder leiding van die bekende verhoogregisseur, Pedro Camara, wat destyds die rol van Carlos in die gewilde sepie 7de Laan vertolk het, en Denver Vraagom (Sheldon in 7de Laan) aangebied.
Die bejaardes het ná afloop van die program tee en verversings geniet.
Die skool het die volgende aand ’n kultuuraand voor ’n stampvol saal waar die skoolkoor en blaasorkes ook opgetree het, aangebied.