‘n Pa en seun van Montagu is onlangs ná die dood van die 25-jarige Melvin Pekeur vyf jaar gelede op aanklagte van ontvoering en moord skuldig bevind.
Graham en Grant Munnik is Vrydag (24 Oktober) in die hof op Ashton tot 25 jaar tronkstraf op ‘n aanklag van moord, vyf jaar vir ontvoering en agt jaar vir regsverydeling gevonnis. Die vonnisse vir ontvoering en regsverydeling sal saam met die vonnis vir moord uitgedien word, en vyf jaar daarvan is opgeskort.
Dit beteken dat die Munniks tot 28 jaar gevangenisstraf gevonnis is.
Die hof het gelas dat die familie van die oorlede geken moet word wanneer hulle later vir parool oorweeg word.
Volgens AO Suria Meyer van die Montagu-polisie het die ontvoering op 17 Oktober 2020 in Muskadelweg gebeur. Pekeur is in Graham Munnik se voertuig gedwing waarna hy aangerand en met ‘n skerp voorwerp gesteek is. Hy is daarna in ‘n vlak graf op ‘n plaas in die Baden-Pietersfontein-omgewing begrawe.
Pekeur se moeder het hom die dag ná sy ontvoering as vermis aangegee. Die Munniks is in hegtenis geneem nadat die vlak graf waarin Pekeur begrawe is, aan die polisie uitgewys is.




