Pa gee nier én hoop vir dogter

Daar is nuwe hoop vir Ivana Ceasar, ’n 22-jarige vrou van Worcester, wie se krag en geloof die afgelope paar jaar intensief op die proef gestel is.

Ivana Ceasar en haar pa, Ivan, in die hospitaal. Ivan het ’n nier aan Ivana geskenk.Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Daar is nuwe hoop vir Ivana Ceasar, ’n 22-jarige vrou van Worcester, wie se krag en geloof die afgelope paar jaar intensief op die proef gestel is.

“Ek is ’n doelgerigte, ambisieuse en nederige mens wat daagliks daarna streef om bo my omstandighede uit te styg,” vertel Ivana, ’n oudleerder van Worcester Gimnasium.

Vir haar was hierdie “omstandighede” egter veel swaarder as vir baie ander jongmense van haar ouderdom. Sy was maar net 20 jaar oud toe kroniese nierversaking, hoë bloeddruk, bloedarmoede en ’n hartsiekte by haar gediagnoseer is. Sy het nie eens alkohol gebruik nie, was sportief en boonop Godvresend.

Ivana Ceasar

“As ’n 20-jarige het ek glad nie geweet wat hierdie klomp siektes beteken of hoe ernstig dit kan wees nie,” vertel sy.

Twee jaar later het sy reeds vier operasies agter die rug, onder meer om haar vir dialise voor te berei en om haar hiperaktiewe skildklier te verwyder.

Toe moes sy op sekere tye tot vier keer per dag dialise ondergaan terwyl sy deur alles moes aanhou studeer.

“Daar was dae dat ek nie kon verstaan hoekom hierdie siekte my liggaam gekies het nie. Op dae soos hierdie was die beste manier maar net om op my knieë te gaan en vir God te vra vir krag.”

Sy het ook deurgaans die ondersteuning van haar familie gehad, wat die pad saam met haar gestap het – haar ma, Elsabé Ceasar, en haar ouer suster, Andrew-Lee Price. “Soms was ek te swak om uit die bed te klim, maar my sussie was die een wat nooit toegelaat het dat ek bly lê nie.”

Haar pa, Ivan, het haar ook ondersteun. Hy het op 24 Mei vanjaar een van sy niere aan Ivana geskenk. Hy sê hy het nooit gedink aan watter positiewe of negatiewe uitwerking hierdie operasie op hom sou hê nie, maar net aan sy dogter en haar welstand gedink.

Pa en dogter is intussen uit die hospitaal ontslaan en sterk goed aan.

Ivana moet haar vir drie maande afsonder omdat sy sterk immuun-onderdrukkers gebruik wat verhoed dat haar liggaam haar nier verwerp. Sy moet ook drie keer per week Kaapstad toe gaan vir opvolgbesoeke by die Tygerberg-hospitaal.

Maar sy sien daarna uit om dan, afgesien van kroniese medikasie vir die res van haar lewe, ’n normale lewe te lei. “Geen dialise meer vier keer per week nie. Die gehalte van my lewe het heeltemal verbeter en ek het geen vloeistofbeperkings meer nie.

“Ek keer volgende jaar terug na my studie in B Com forensiese rekeningkunde en sal dan ’n finalejaarstudent wees.”

Dan hou die toekoms groot dinge in. “Ek wil gradueer en my droom om ’n geoktrooieerde rekenmeester te word, najaag. Ek wil ook bewusmaking skep oor nierversaking en die belangrikheid van orgaanskenking as ek die platform gegun word. Dan wil ek my storie met soveel mense moontlik deel en sodoende probeer om hoop te bring by mense wat dieselfde reis moet aanpak.”

You need to be Logged In to leave a comment.