John Jacobs, wat in Durbanstraat ge­skiet en later in die hospitaal dood is.

Al wat hy wou doen, was om booswigte wat by ‘n bakkie probeer inbreek het, te verwilder. Ongelukkig het hy met sy lewe geboet toe die eienaar van die bakkie na bewering op die booswigte losgebrand en hom in die proses gewond het.

John Jacobs (63) van Ysselstraat in Riverview, Worcester, het Maandag (17 November), ‘n dag ná die voorval, in die Worcester-hospitaal aan sy skietwond beswyk.

Sy oudste seun, Alston Jacobs (42), vertel dat sy pa Sondagoggend (16 November) – die dag van die voorval – skuins voor 11:00 saam met ‘n vriend by ‘n winkel in Durbanstraat was om hoender te koop.

Volgens Alston het sy pa hom in die ambulans op pad na die hospitaal vertel dat hy – toe hy by die winkel uitgestap het – ‘n groep boosdoeners gewaar het wat by ‘n bakkie wat voor ‘n kruidenierswinkel geparkeer was, wou inbreek.

Alston sê sy pa het oor die straat in die rigting van die bakkie – waarin ‘n vroulike insittende was – gestap om die booswigte te verwilder.

Volgens hom het die eienaar van die bakkie in daardie stadium uit ‘n kitskosrestaurant gestap gekom, in sy bakkie geklim, ‘n vuurwapen uitgehaal en na bewering op die booswigte – wat besig was om weg te hardloop – begin skiet.

Hy vertel dat sy pa – wat op die toneel agtergebly het – ook in die proses gewond is.

Volgens Alston het die koeël sy pa aan die linkerkant van sy maag deurboor en by sy lies uitgeskiet.

Hy sê die koeël het onder meer ‘n slagaar getref.

“Ek was by die werk toe my suster se verloofde my bel en sê ek moet dringend huis toe kom, want my pa is in Durbanstraat geskiet.

“My manager het my tot by die toneel in Durbanstraat geneem. Toe ek daar kom, was my pa reeds in die ambulans.

“Ek het ook in die ambulans geklim en saam hospitaal toe gery. In die ambulans het my pa my vertel wat gebeur het.” Volgens Alston is ‘n klomp toetse op sy pa gedoen waarna ‘n noodoperasie van sowat vier ure op hom uitgevoer is om onder meer die bloeding te stop.

Alston vertel dat sy pa na afloop van die operasie na die hospitaal se waaksaal oorgeplaas is. “Ná die operasie het my pa nooit weer bygekom nie.”

Volgens John se hartseer vrou, Elsie (66), het sy en haar gesin tot ná twaalfuur die nag by haar man in die waaksaal gewaak.

Volgens Alston was sy pa se toestand nog onveranderd toe hulle hom Maandagoggend elfuur in die hospi-

taal gaan besoek het.

Hy vertel verder: “Twee-uur [Maandagmiddag] toe bel die hospitaal ons om te sê my pa lyk nie goed nie.

“Ons het toe tot so 17:00 by hom gebly. So 19:02 toe bel die hospitaal om te sê my pa is oorlede.

“Al wat my pa wou doen, was om iemand te probeer help en kyk wat kry hy terug.”

‘n Hartseer Elsie sê aan Standard Breederivier Gazette: “Ek kan nie beskryf hoe ek voel nie. Om hom hier te sien uitstap en dan later te hoor hy is geskiet – dis seer.”

Sy beskryf haar man as “baie behulpsaam” en “ ’n omgee-mens”.

Begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie.

AO Vathiswa Jacobs, ‘n polisiewoordvoerder, sê ‘n verdagte is op die dag van die skietvoorval in hegtenis geneem.

• Elsie en haar man het hul middelkind, Fabian (33) in 2022 aan die dood afgestaan. – Enrico Claassen

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article