Paasbasaar se hart klop weer

Ná twee jaar se afwesigheid weens Covid-19 is alle aanduidings dat die alombekende Paasnaweek-bedrywighede wat so eie aan Worcester en sy mense is weer vanjaar op die spyskaart is.


Duisende mense stroom op ’n Paasmaandag na Worcester se Paasbasaar.Foto’s: Argief

Ná twee jaar se afwesigheid weens Covid-19 is alle aanduidings dat die alombekende Paasnaweek-bedrywighede wat so eie aan Worcester en sy mense is weer vanjaar op die spyskaart is.

Soos tradisie dit dan wil hê, lei alle paaie oor die Paasnaweek weer, soos verwag, na Worcester. Dit is vir veral oud-Worcesteriete nie sommer net om ’n naweek in Worcester te kom deurbring nie. Tereg ook, want om nie oor die Paasnaweek in Worcester te wees nie, maak jou gewis “armer’’.

Vir meer as honderd jaar is hier ’n tradisie vasgevang wat jy sweerlik nêrens elders in Suid-Afrika sal vind nie. Dit is seker juis waarom kinders van die dorp wat elders woon of werk, jaar ná jaar terugkom om deel te kan wees van ’n tradisie eie aan ons pragtige dorp.

Terloops, dit is niks snaaks nie dat selfs kinders wat oorsee werk, studeer of woon, hul vakansies so beplan dat dit met die Pase saamval om net deel hiervan te kan wees.

Goeie Vrydag

Dinge begin gewoonlik reeds op Goeie Vrydag met duisende inwoners en besoekers wat tradisioneel die een of ander kerkdiens bywoon. Hier in ons dorp is daar selfs kerke wat reeds op die voorafgaande Donderdagaand ’n voetewas-seremonie en Avondmaal hou. Die res van die dag word dan gewoonlik deurgebring met familie terwyl heerlik gesmul word aan ingelegde kerrievis en Paasbolletjies.

Saterdag is sport- en kuierdag

Saterdag is gewoonlik sport- en kuierdag. Vroeër jare is gewoonlik groot rugby, sokker en nelbal-uitkloppe gehou, om van die fietswedrenne nie te praat nie. Deesdae is dit egter die Easter Challenge-rugbytoernooi wat groot aftrek kry, en vanjaar is geen uitsondering nie. Alberts, Worcester Villagers (Villa), Young Hamiltons (Hammies) en Primroses gaan hierdie jaar die skare met hul uitsonderlike talente vermaak, terwyl Hoërskool Breërivier en Esselenpark se o.19-spanne reeds om 10:00 die dag op ’n hoë noot gaan afskop.

Kort voordat die tradisionele aartsvyande Villa en Hammies se A-spanne mekaar in die hoofwedstryd gaan pak, gaan twee “ou krokspanne’’ mekaar die stryd aansê.

Ná die wedstryde, gewoonlik hier teen laatmiddag, sit almal na die onderskeie begraafplase af waar grafte van geliefdes skoongemaak en vars blomme opgesit word. Dit omskep dan die begraafplase in ’n kaleidoskoop van kleureprag.

Saterdagaande is gewoonlik danstyd met die jongklomp wat gewoonlik uithang by 925, terwyl die ouer garde gewoonlik by die een of ander langarmdans gaan litte losmaak. Hierdie tradisie (veral die langarmdanse) het egter die afgelope ruk gekwyn. Die langarmorkes New Strings het ons onlangs ’n voorsmakie kom gee van wat ons kan verwag toe hulle verlede Vrydag ’n opskop in die stadsaal gehou het.

Kersfeeskore, ‘brass’-orkeste en kerkbywoning

Sondagoggend is dit vroeg opstaan, want dan word afgesit na die onderskeie begraafplase waar gewyde gesange onder begeleiding van die orkeste gesing word en ’n kort Opstandingsdiens gewoonlik gehou word.

Daarna is dit gou huis toe en weer kerk toe, want die diens in die kerkhof begin reeds om 06:00.

Alhoewel die res van die dag kuiertyd is, word oral hard gewerk om alles betyds vir Paasmaandag se basaar gereed te kry. In bykans elke huishouding sal jy gewoonlik begroet word deur die reuk van varsgebak en ander tradisionele basaaritems soos gemmierbier en samoesas terwyl klaargemaakte mandjies gevul word met allerhande lekkernye om veral die kinders se aandag te trek.

Paasmaandag se basaar
Die gesig van die Paasbasaar: Samesyn, liefde en eetgoed.

Paasmaandag word oor geloofsgrense heen lekker basaar gehou; dan vergeet jy vir ’n wyle dat jy aan ’n sekere kerk-denominasie behoort en ondersteun mense mekaar omdat dit deel van ’n jare lange tradisie is.

Reeds van 06:00 af word jy begroet deur ’n miernes van bedrywighede. Kerke en welsynorganisasies slaan hul stalletjies op vir die duisende voete wat die strate gaan deurkruis op soek na iets lekkers. Gewoonlik word Durban-, Le Sueur-, Parker- en Greystraat tot by Leopoldtlaan deur die plaaslike verkeersdepartement afgesper. Braaivleisvure brand hoog terwyl die dag verder opgekikker word met strelende musiek, boonop meestal “old school”, deur ons eie plaaslike kunstenaars.

Musikante van formaat

Een kunstenaar wat oor die jare ’n instelling geword het, is sonder twyfel die immergroen oud-Worcesteriet Whani Jansen, wat al die afgelope amper dertig jaar elke jaar uit Namibië kom. Covid-19 het dinge egter vanjaar lelik deurmekaar kom krap, maar daar fluit tog ’n voëltjie dat hy wel hierdie jaar sy opwagting gaan maak.

By die Congregational kerk se basaar is William (Boetie) Springveldt ook al deel van hul huisraad en gaan hy seker weer basaargangers met sy minnesang lok.

Ons ander kind van die dorp Ronnie Apollis gaan seker weer by sy geliefde AME Sion-gemeente optree terwyl die herder daar, eerw. Keith Links, na alle waarskynlikheid ook sommer ’n volledige langarmorkes daar gaan hê om die basaargangers by hul basaar te hou.

Nolan Henson sal na alle waarskynlikheid by die Calvyns Protestantekerk optree (waar hy ’n lidmaat is) terwyl Shaheen Bergh gewoonlik seker maak dinge in Durbanstraat voor die Moskee ruk behoorlik.

Pret met karre

Ná die bedrywighede by die basaar sit die jongklomp gewoonlik af na die oop ruimte agter die destydse Maywood-bioskoop waar hulle verder ’n hond uit ’n bos sal kuier waar waaghalse en hul motors met hul spin & dice-toertjies ’n groot trekpleister is.

In die verlede het feesgangers afgesit na die bekende Yunus Lakay se barbershop in Le Sueurstraat, waar Whani Jansen die mense verder vergas het met sy pittige sêgoed en lekker musiek.

Ná Yunus se afsterwe het die fokus verskuif na die Nekkies, waar verdere vermaak uit die boonste rakke op die spyskaart is.

Een van die grootste aantrekkings vanjaar is die immergewilde Rockets wat gaan optree.

Dit is alles in ’n neutedop saamgevat. Worcester is en bly gewis die plek om te wees hierdie Paasnaweek!

You need to be Logged In to leave a comment.