Nadat die Padvindersbeweging hier in Worcester vir etlike jare taamlik onaktief was, het ’n groepie oud-Padvinders koppe bymekaar gesit om dié beweging weer tot sy vroeë glorie te laat herleef.
Volgens Hugh Pasquallie, ’n oud-Padvinder, het hulle reeds die hoofde van verskeie skole genader met die oog om leerders tussen 6 en 10 jaar oud asook leerders tussen 11 en 18 jaar te werf om hulle by die Padvinders in te lyf.
Die Padvinders het ook ’n ouerkomitee in die lewe geroep om toe te sien dat dinge vlot verloop.
Net meer as 20 leerders is tans betrokke en hulle was reeds op ’n visvanguitstappie sowel as ’n lekker uitstappie in die natuur. Die plan is om die nuwe rekrute teen einde Junie as volwaardige Padvinders in te lyf.
Om ’n Padvinder te word, is gewis voordelig, want hier word jy geleer om kos te kook, touwys gemaak in noodhulp, leer touwerk aan, kaartwerk-vaardighede word opgeknap en jy word ook geleer hoe om ’n kompas te gebruik. Jy leer oor die sterrekunde en sommer net hoe om in die natuur te oorleef. Padvinders word ook in kamp- en lewensvaardighede opgelei en om nuttige burgers in die samelewing te wees. Hulle word ook opgelei om in noodsituasies op te tree asook om in natuurrampe en brande te help.
Die Padvinders is oop vir almal (seuns en meisies) en geen kleur- of geloofskwessies behoort ’n struikelblok te wees nie, aangesien Padvinders toeganklik is vir almal.
Die Padvinders kom elke Vrydag om 18:00 by die saal in Kluestraat (langs Montana Hoërskool) byeen.
Ouers wat meer oor die Padvindersbeweging wil uitvind, kan Pasquallie by 083 550 1445; Peter Titus by 079 396 6623; William Fredericks by 023 342 3191 of Theresa Benjamin by 078 224 8704 bel.