Leonie Stynder gaan ’n petisie begin sodat die vermeende moordenaars van Calvin Jacobs albei swaar gestraf kan word.
“Hulle moet nooit weer buite wees nie.”
Calvin Jacobs is op 16 Junie vermoor toe twee verdagtes hom buite ’n winkel in Russelstraat, Worcester, aangeval het.
“Hy het daai aand soos hy gereeld maak, winkel toe gegaan. Toe hy by die winkel kom, wou die twee verdagtes die winkel beroof, maar die eienaar van die winkel het hulle uitgestoot. Calvin het op daai oomblik daar aangekom en hulle het hul woede op hom uitgehaal. Hy is een keer in die kop gesteek,” verduidelik Stynder.
Jacobs was ’n student by Boland Kollege en het reeds vier jaar lank by Stynder geloseer toe hy vermoor is. Hy was oorspronklik van Kuruman.
Jacobs het nog gelewe nadat hy gesteek is, maar het op 18 Junie aan sy beserings beswyk. Stynder sê sy en sy familie in Kuruman is steeds gebroke oor sy dood.
“Hy was ’n stil kind. Hy was amper klaar met sy kursus waarmee hy die afgelope vier jaar by Boland Kollege besig was. Hy was regtig ook net ’n Jack-of-all-trades; ek kon hom enige tyd net vra om na iets te kyk wat stukkend was in die huis en hy het net altyd gesê ek hoef nie te worry nie, hy sal dit uitsorteer. Hy was soos my eie kind; ek het net ’n dogter en hy was my seun.”
Sy meen al die moontlike moet gedoen word om te verseker dat sy vermeende moordenaars nie borgtog toegestaan word nie en dat hulle die swaarste straf moontlik opgelê word.
“Die manier waarop hy doodgemaak is, is baie wreed. ’n Onskuldige mens se lewe is vir geen rede nie weggevat. Hulle moet nie eens borgtog kry terwyl die saak aan die gang is nie. Ek wil ’n petisie opstel sodat die hof kan besef wat hulle aan ons gedoen het.”
Die twee beskuldigdes het Donderdag 5 Oktober in die hof verskyn.
Die saak is tot 7 November vir verdere ondersoek uitgestel.


