Alle paaie lei Saterdag 25 Oktober na die Golden Valley Casino in Worcester, waar die langverwagte Pioneer-stiptheidsren ná ‘n afwesigheid van ses jaar terugkeer.

Dié adrenalienbelaaide byeenkoms beloof om met sy terugkeer vanjaar soos in die verlede weer die verwagtinge te oortref.

Waldimar Pelser Foto: Cornel van Heerden

Die Pioneer-stiptheidsren, wat as ‘n geldinsameling vir die Pionierskool vir siggestremdes dien, is veel meer as net ‘n motor-stiptheidsren – dit is ‘n lewensveranderende ervaring. In vanjaar se ren skuif bekendes uit die vermaaklikheid-, sport- en sakewêreld weer agter die stuur in, met ‘n blinde navigator aan hul sy, en hulle durf die pad aan van We Buy Cars in Richmond na die Golden Valley Casino in Worcester – maar met ‘n kinkel in die kabel.

Die braille-roete en kontrolepunt-aanwysings, fyn beplan deur die wêreldbekende renjaer Sarel van der Merwe, word eers net voor hul wegspring aan die bestuurders en navigators oorhandig. Die bestuurders – volkome afhanklik van hul blinde navigators – word dan teen die stophorlosie deur middel van die blinde navigator se Braille-aanwysings van beheerpunt tot beheerpunt gelei.

Tracey Lange, Margit Meyer-Rödenbeck wat vanjaar weer seremoniemeester speel, en Ivaan Levendal by ‘n vorige jaar se Pioneer-stiptheidsren.

Wanneer die stof gaan lê en die enjins stil raak, sluit die dag se avonture met glans en styl by ‘n galadinee by die ATKV-Goudini Spa af. Die deftige byeenkoms se tafels is deur ondernemings van Worcester en omstreke geborg en gaste het die voorreg om ‘n bekende en ‘n blinde navigator aan tafel te hê. Gaste sal bederf word met fynproewergeregte, gratis wyn, topklas-vermaak en ‘n veiling. Die wenspanne van die dag word dié aand ook onder luide toejuiging gekroon en met die geliefde Margit Meyer-Rödenbeck, Peter Mitchell en Wicus van der Merwe as seremoniemeesters, beloof die aand om ‘n groot dosis lag, stories en goeie samesyn op te dis.

Alle opbrengste wat deur die Pioneer-stiptheidsren ingesamel word, sal aangewend word om die Pionierskool vir siggestremdes se gespesialiseerde en unieke dienste aan sig- en addisioneel gestremde leerders te finansier.

Die navigators is almal huidige of oud-leerders van Pionierskool en hul bereidwilligheid en entoesiasme om jaar ná jaar aan die stiptheidsren deel te neem, is ‘n bewys van die gehalte-onderrig wat Pionierskool bied en die sterk band tussen die leerders en hul alma mater.

Dawie Roodt en oudleerder Hendri Herbst by ‘n vorige Pioneer Rally.

Die vermaaklikheidsterre wat vanjaar hul tyd en ondersteuning aan hierdie waardige inisiatief verleen, sluit in Charl Marais, Deon Lotz, Marcell van Heerden, Pietman Geldenhuys, Elandré, Wahl Bartmann, Dawie Roodt, Janina Oberholzer, Jonathan Mokuena, Lynné de Jager, Rika Niewoudt, Whitey Basson, Willem Basson, Herman Lensing, Johnny Davids, Natasha van der Merwe, Shimmy Isaacs, Vanes-Mari du Toit, Waldimar Pelser, Armand Aucamp, Sean van Noordwyk en ander.

Herman Lensing sê oor die spesiale inisiatief: “Die Pioneer-stiptheidsren bring mense vir ‘n ongelooflike saak bymekaar en herinner ‘n mens aan die krag van gemeenskap. Om saam met die siggestremde navigators te ry, is ‘n ervaring wat jou perspektief verander, want jy kan nie anders as om ‘n diep respek vir hul deursettingsvermoë te hê nie. Dis ‘n dag vol pret, adrenalien en ware inspirasie – en ek is dankbaar om deel daarvan te wees. Dis ‘n herinnering dat ware visie nie net in jou oë lê nie, maar in jou hart.”

Die publiek en die Worcester-gemeenskap word genooi om die deelnemers Saterdag by die Golden Valley Casino van 14:00 te verwelkom. Dit is ‘n gulde geleentheid om jou gunsteling-bekendes in aksie te sien en die ware sterre van die dag – die siggestremde navigators – te ondersteun en aan te moedig.

Kaartjies vir die gala-geleentheid is reeds vroeg uitverkoop.

• Kontak Colleen Marais of Cathy Hugo by 023 342 2313 of stuur e-pos na marketing

@pioneerschool.org.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.