Die wiele het die afgelope Saterdag (25 Oktober) op die teerpad op pad Worcester toe tydens die vyftiende Pionier-stiptheidsren gesing.
Die glimlagte was breed toe die bekendes wat agter die stuur ingeskuif het, tesame met hul siggestremde navigators die een ná die ander by die Golden Valley Casino aangekom het.

Ná ‘n afwesigheid van ses jaar het die Pionierskool vir Siggestremdes weer dié besondere stiptheidsren aangebied – vanaf We buy Cars Richmond, Milnerton, tot by Golden Valley Casino in Worcester. Die groep, tesame met talle gaste en borge, het dié besondere dag met ‘n glansaand by die ATKV Goudini afgesluit.
Die wenners van die stiptheidsren was die rugby-afrigter en sportaanbieder Jonathan Mokuena en sy navigator, Ivaan Levendal. Die roete is, soos voorheen, deur die bekende oudrenjaer Sarel van der Merwe uitgelê.

Die bekendes was dit eens dat dit ‘n ervaring was wat hulle altyd sal bybly. Hul siggestremde navigators het hul braille-aanwysings eers kort voor die wegspring gekry en moes hul bestuurder in die kortste moontlike tyd van beheerpunt na die volgende kry.
Met hul aankoms was dit duidelik dat dié “renjaers” en navigators groot pret op die pad gehad het.
Die glansaand wat gevolg het – kompleet met swart pakke, strikdasse en aandrokke – het die gaste se oë oopgemaak vir die wêreld vir siggestremdes. Die aanbieders het meer oor elke navigator vertel en dit was duidelik dat hulle nie terugstaan vir uitdagings nie en ‘n vol lewe lei – van jare lange betrokkenheid by sport tot indrukwekkende studies en loopbane.
Die avonturier Hein Wagner, wat die sakeman Whitey Basson se navigator was, het die gaste laat skater met sy komiese vertelling van hul rit. Wagner hou die landspoedrekord vir blindes en was ‘n leerder aan die Pionierskool.
Die sanger Elandré, wat die aand opgetree het, sê hy en sy navigator, Leané Hattingh, ‘n leerling aan die Pionierskool, was glad nie haastig nie. “Ek sou nóg langer agter die stuur kon bly; ons as twee musikante het baie lekker gesels oor die lewe en musiek.”

Hattingh het die aand opgetree en met haar helder, stroopsoet-stem “Sonvanger” gesing.
Volgens Annelette Kemp, die organiseerder, is hulle baie dankbaar dat hulle weer met die Pionier-stiptheidsren se suksesverhaal kon voortgaan. Dit byeenkoms is in 2019 laas gehou. “Soveel van hulle het gevra of hulle volgende jaar weer deel kan wees.”
Die Pionier-stiptheidsren is ‘n belangrike geldinsamelingsprojek vir die skool, wat al 144 jaar lank ‘n baken van hoop is en kwaliteit onderrig aan siggestremde leerders van Graad R tot Graad 12 bied.
“Onderrig aan siggestremde leerders se kostes is hoër omdat die leerders nie net na ‘n prentjie kan kyk en verstaan nie, maar dit só aangebied word dat hulle op ‘n ander manier kan begryp. Die gespesialiseerde onderrig wat hulle ontvang, is volledig en gelykstaande aan die kurrikulum in gewone skole.”
Diegene wat die Pionierskool vir Siggestremdes wil besoek of ondersteun, kan Cathy Hugo kontak by 023 3422313 of [email protected].







