Ná ses jaar aan die stuur van die Pionierskool vir Siggestremdes in Worcester tree die skoolhoof, Michael Bredenkamp, aan die einde van die jaar af.
Met ‘n onderwysloopbaan van 35 jaar agter die blad beplan hy en sy vrou, Tania, om na Mookgophong (Naboomspruit) in Limpopo te verhuis om nader aan hul kinders en kleinkinders te woon.
Bredenkamp het sy loopbaan in 1989 aan die Laerskool Overberg in Caledon begin. Sy leierspotensiaal is vroeg raakgesien en hy is op die ouderdom van 31 jaar as die hoof van die Laerskool Daniel le Roux in Vyeboom aangestel.
In Oktober 2018 het hy by Pionierskool begin – gedurende ‘n tyd van onsekerheid oor die toekoms van die skool se projekte en finansieringsgeleenthede. Ten spyte van hierdie onsekerhede is sy tyd by Pionierskool gekenmerk deur kreatiewe groei en nuwe geleenthede vir die leerders.
Bredenkamp sê hy is trots om te kon deel wees van ‘n skool waar die leerders elke dag ten spyte van hul uitdagings met moed en ‘n positiewe ingesteldheid leef en dan boonop nog uitblink – nie net op akademiese vlak nie, maar ook op sport- en kulturele gebied. Om in sy termyn as skoolhoof nog te kon klas gee was vir hom ‘n groot plesier. Van die mylpale onder sy leiding sluit in die laerskoolleerders se heel eerste drama-optrede met hul deelname aan die Villiersdorp-toneelfees; die skool se eerste musiekblyspel, wat weke lank ‘n gesprekspunt in die gemeenskap was; die ontwikkeling van die
Pionier-radiostasie, ‘n platform wat radio-opleiding en radio-blootstelling aan siggestremde leerders bied en die betrokkenheid, met die samewerking van verskeie rolspelers, by die totstandkoming van die Hein Wagner-akademie, waar siggestremde skoolverlaters verder kan studeer.
Die skool se personeel beskryf hom as ‘n passievolle storie-verteller en ‘n mensgerigte skoolhoof wat die belange van sy leerders en personeel altyd eerste gestel het. Hy is bekend as ‘n vredemaker wat mense deur sy rustige benadering bymekaarbring en harmonie in uitdagende situasies help herstel. Sy passie vir spesiale onderwys en sy vermoë om nuwe projekte met sensitiwiteit en visie te ontwikkel, het ‘n tasbare verskil by die Pionierskool vir Siggestremdes gemaak.
Ds. Carel van der Merwe, ‘n goeie vriend van Bredenkamp, beskryf hom as ‘n man “met ‘n oormaat geduld, liefde en deernis, wat hom laat uitstaan in ‘n wêreld waar hierdie eienskappe nie altyd met ‘n ‘suksesvolle’ leier verbind word nie”.
“Maar in die leefwêreld van ons leerders het hierdie eienskappe hom na my mening, en soms ten koste van homself, ‘n skoolhoof duisend gemaak.”
Die skoolgemeenskap het die egpaar alle voorspoed toegewens. met hul nuwe lewensreis in Limpopo.





