Chris Koopman, ‘n sanger van Worcester en wat voorverlede jaar die verhoog tydelik vaarwel moes toeroep nadat hy onverwags baie siek geword het, is reg om sy sangloopbaan te hervat.

Die 36-jarige Koopman, wat op ‘n passasierskip as vermaaklikheidster gewerk het toe hy pankreatitis opgedoen het, was maande lank in die hospitaal. Hy was eers in Amerika in ‘n hospitaal en het na sy ouerhuis in Worcester teruggekeer om aan te sterk.

“Ek het baie gewig verloor en was baie swak. Ek kon vir lank nie op my eie woon nie,” vertel hy.

Hy is van ‘n hospitaalbed na ‘n rolstoel en het in Desember sy laaste groot operasie gehad. Hy is baie dankbaar teenoor sy ouers, Chris en Nolene Koopman, en sy versorgers, Myrtle Pietersen en Theresa Schröder, wat hom weer op die been gehelp het.

“Ek is so bly dat ek weer 100% gesond is en geen medikasie meer hoef te gebruik nie.”

Deesdae woon hy weer op sy eie en het sy buiging vroeër vajaar by die Nekkies-musiekfees gemaak.

“Sing bly my groot liefde,” sê hy. “Nadat ek beter begin voel het, wou ek net weer begin sing en het aan karaoke en wat ek ook al kon, deelgeneem. Ek het begin oefen en gym en selfse fiets begin ry om my asemhaling reg te kry.”

Koopman het vroeër vanjaar as ‘n dankie aan die gemeenskap wat hom ondersteun, ‘n vertoning vir hulle aangebied.

“Ek het net weer besef hoe genadig die Here was dat ek weer op ‘n verhoog kan staan,” sê hy.

“Nekkies was ‘n ongelooflike lekker ervaring – veral om so tussen van ons musieklegendes te staan. Dit was ‘n voorreg om Jonathan Butler te kon sien optree en Jamali en Mafikizolo te ontmoet. Die professionaliteit en reëlings was uit die boeke.”

Koopman het groot planne vir die toekoms en gaan sy eie musiek skryf. Hy sal graag met ander kunstenaars wil saamwerk. Op die vraag of die groot water en die verhoë op passasierskepe hom weer roep, lag hy net. Daaroor moet hy nog besluit, maar vir nou sing hy op eie bodem.

You need to be Logged In to leave a comment.