Twee stemme uit eie bodem gee hierdie week hul eerste tree in die musiekbedryf met die vrystelling van hul enkelsnitte.
Eulanda Wagner en Victor Fredrick, wat albei aan die ATKV se Crescendo-kompetisie deelgeneem het, tree op 16 Mei saam met die gevestigde kunstenaars Riku Lätti en Corlea Botha in die Daisy Jones-teater buite Stellenbosch op.
Eulanda (40), oorspronklik van Worcester, is ‘n enkelma. Sy werk as toesighouer by ‘n hoërskool, maar het in 2024 besluit om vir die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram in te skryf en is as een van tien finaliste aangewys. Haar enkelsnit “Nou of nooit” is in Maart opgeneem.
Dit is nie net die naam van ‘n liedjie nie, maar ook haar lewensfilosofie.
As ma van ‘n 24-jarige dogter en ‘n agtjarige outistiese seuntjie moes sy leer om elke dag moed te hou. Sy wil met hierdie lied ‘n baken van hoop skep vir ander enkelouers en vir almal wat soms twyfel aan hul eie pad. Die inspirerende popliedjie het invloede van jazz, funk en R&B en is tydens die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram geskryf.
Lied dra haar deur moeilike tye
“Die lied het my deur moeilike tye gedra. Ek moes leer om op my instink te vertrou, myself opnuut lief te hê en die geraas van die wêreld stil te maak,” het sy gesê.
Ander liedjies uit haar pen is “Phattyboomboom”, ‘n lawwe liedjie waarin sy meisies met ‘n voller figuur bemoedig en “Nie verlore” oor die Covid-19-pandemie.
Eulanda is deel van Expression Session se Worcester-tak. Hierdie inisiatief ontwikkel plaaslike talent en bied ‘n platform vir kreatiewe selfuitdrukking. Sy het al by die Nekkies-Paas-musiekfees opgetree en kan ook by die Golden Valley Casino gesien word.

Victor Fredericks se wortels lê diep geplant in die plaaslewe van Wolseley, waar hy ‘n produk-sievoorman op ‘n vrugteplaas is. Hy is een van vanjaar se oudste finaliste.
Victor is ‘n storieverteller in murg en been. Hierdie liedjieskrywer, digter en sanger het sy liefde vir woorde en musiek by sy ouers geleer. Sy ma was ‘n sopraan in die kerkkoor en sy pa was baie lief vir Afrikaanse radio en het hom jonk reeds aan die krag van klank en liriek blootgestel.
Sy musiek word beskryf as rou, eerlik en emosioneel eg. Of dit nou in die vorm van blues, ballades of alternatiewe Afrikaanse snitte is, dra Victor se klank altyd die spore van sy storie – die plaas, die pad, die liefde en die verlange.
Victor is in 2018 as een van Agri’s Got Talent se finaliste aangewys en in 2022 verskyn sy debuutenkelsnit “Boland Blues”. Hy is verlede jaar as ‘n toptien-finalis vir die ATKV-Crescendo se mentorskapprogram gekies. In hierdie tyd het sy liedjie “Blackberry Juice en Gin” ontstaan.
Nie net sanger nie, maar ook digter
Hy is ook ‘n bekroonde skrywer en dramaturg. Sy digbundel Ons stryd het in 2001 verskyn, gevolg deur Voetpad oor die Witzenberg in 2020 en Laat Pa vertel in 2023. Laasgenoemde is ‘n roerende huldeblyk aan sy pa.
Victor het verskeie dramatekste geskryf, waaronder “Ons moet klaar praat, Ma” en “Laat ons praat daaroor”, wat temas van gesinsdinamiek, jeug en genesing ondersoek.
Een van die hoogtepunte van sy loopbaan was toe die oud-Worcesteriet, die skrywer dr. Diana Ferrus, hom gevra het om haar internasionaal bekende gedig “Ek’s hier om jou huis toe te neem” oor Sara Baartman te toonset.
• ATKV-Crescendo is reeds sedert 1974 die wegspringplek vir talle bekende kunstenaars soos Rina Hugo, Anneli van Rooyen, Randall
Wicomb, Karin Hougaard, Anna Davel en Jak de Priester.
• Die koste vir Eulanda en Victor se vertoning is R150. Kaartjies kan by Quicket gekoop word.
Die vertoning begin om 19:00.




You must be logged in to post a comment.