Met waterbeperkings wat by talle munisipaliteite in die Wes-Kaap ingestel is en die Dag Zero-droogte van 2018 nog vars in die geheue, is baie mense bekommerd oor waterverskaffing aan gemeenskappe in droë seisoene.

Die Breedevallei-munisipaliteit het vordering gemaak om waterverskaffing aan sy dorpe te verseker, met die raad wat ‘n haalbaarheidsverslag oor die verhoging van die Stettynskloofdam se kapasiteit op 3 Desember aanvaar het.

Dié verslag verleen toestemming vir die opstel van ‘n gedetailleerde ontwerp van die beoogde bouwerk om die damwal met vier meter te verhoog ten einde voldoende waterkapasiteit tot die jaar 2042 te verseker, sê dr. Julian Kritzinger, burgemeesterskomiteelid vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling, toerisme, kuns en kultuur.

Die munisipaliteit het ingevolge die waterwet en ‘n water-hofbeslissing die reg om 15 000 megaliter in die dam te berg en om tot 16 000 megaliter water per jaar uit die dam te gebruik.

Opdrag vir die voorlopige studie is in 2017 aan die direktoraat van tegniese dienste gegee.

Die haalbaarheidsverslag moes verskeie aspekte hanteer, naamlik ‘n geoteg- niese evaluering, omgewingsimpakgoedkeuring, ‘n watergebruikslisensie, lisensies om ‘n dam te bou en om ‘n natuurlike waterloop op te dam, die gedetailleerde ontwerp van die beoogde konstruksie en die insluiting van ‘n voorstel om die opwekking van hidro-elektrisiteit in te sluit.

Die verbreding en verbetering van die toegangspad na die dam, verskillende opsies vir die verhoging van die damwal (soos valplate en ‘n klaviertipe-keerwal) en laastens die voorsieningskanaal se logistiek is ook oorweeg.

Die verhoging van die damwal bring groot kostes mee, waarvoor beplan moet word. Die grootste beraamde koste was volgens dr. Kritzinger onder meer R10 miljoen vir die verhoging, R28,5 m. vir die versterktebetonwerk op die oorloop, R5,5 m. vir ‘n bykomende oorloop met ‘n klaviertipe keerwal, R25,5 m. vir oorleunoorvleulingshekke, R6 m. vir instrumente om water te meet, R10 m. vir die konstruksie van ‘n waterinlaattoring en -uitlaatwerke, R29,3 m. vir hidro-elektrisiteitswerke, R20,5 m. vir die verbetering en verbreding van die toegangspad en R34,6 m. vir gebeurlikheidfinansiering. Die som beloop sowat R207,7 m.

Volgens dr. Kritzinger beplan die raad om eksterne finansiering te gebruik en die balans van vereiste finansiering sal deur verskillende metodes verkry word.

R9,8 miljoen is reeds in die huidige begroting vir die voortsetting van die proses beskikbaar. Verdere finansiering van R76,3 m. is reeds as ‘n lening beskikbaar.

“Namate verdere finansiering benodig word, sal in toekomstige jaarlikse begrotings daarvoor voorsiening gemaak en begroot moet word. Bykomende finansiering moet ook by eksterne rolspelers op plaaslike, distriks-, provinsiale en nasionale vlak gesoek word,” sê dr. Kritzinger.

Die omgewingsimpakstudie moet nog gedoen word. Dit sal sowat twee jaar duur.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Standard E-Edition 15 January 2026
    Standard E-Edition 15 January 2026

Gift this article