Privaat hoëronderwysinstelling stel nuwe kursus bekend

Akademia, die privaat hoëronderwysinstelling van Solidariteit, het onlangs die opwindende nuus bekendgemaak dat BEd (Intermediêre Fase-onderwys) vanaf 2022 voltyds by sy Centurion-kampus deur topakademici aangebied gaan word.


Akademia, die privaat hoëronderwysinstelling van Solidariteit, het onlangs die opwindende nuus bekendgemaak dat BEd (Intermediêre Fase-onderwys) vanaf 2022 voltyds by sy Centurion-kampus deur topakademici aangebied gaan word.

Dié splinternuwe kwalifikasie dien as ’n positiewe toevoeging tot die instelling se onderwysaanbod nadat die reeds bestaande en suksesvolle nagraadse onderwyssertifikaat (senior fase en verdere onderwys en opleiding) aan die begin van die jaar ’n aanvang geneem het.

Die BEd (intermediêre fase)-program fokus op die opleiding van onderwysers vir grade 4 tot 6. Graduandi van hierdie kwalifikasie sal wiskunde, Afrikaans en Engels, sowel as ’n keusevak soos sosiale wetenskappe, lewensvaardighede of natuurwetenskappe tot en met graad 7 kan aanbied. Hierdie kwalifikasie sal studente in staat stel om uiteindelik as professionele onderwysers by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders (SARO) te registreer.

Om vir toelating tot die BEd-program in aanmerking te kom, word een van die volgende benodig:

’n Nasionale Senior Sertifikaat met endossement vir toelating tot graadstudies met ’n minimum van 50% in elk van die volgende vakke: Afrikaans, Engels en wiskunde.

NKR-vlak 4 Nasionale Sertifikaat (beroepsgerig) met endossement vir toelating tot graadstudies met ’n minimum van 50% in elk van die vakke Afrikaans, Engels en wiskunde.

’n Minimum van 40% vir wiskunde sal oorweeg word, mits die kandidaat ’n algehele goeie akademiese profiel het.

’n Erkende sertifikaat of diploma in onderwys, of ’n verwante veld (krediete in verwante studies kan erken word).

Bo en behalwe hierdie toelatingsvereistes, verduidelik prof. Gawie du Toit, dekaan van die fakulteit opvoedkunde, dat die ideale studenteprofiel van só ’n studierigting eerstens ’n hartsbesluit moet wees.

“Die voornemende student moet lief wees vir mense – in besonder kinders – en om saam met hulle te werk. Die persoon moet nuuskierig wees, bereid wees om ’n lewenslange student te wees, sowel as om ’n dienende leier, binne en buite die klas te wees.”

Du Toit meen dat dit ’n strategiese besluit was om hierdie kwalifikasie te ontwikkel en aan te bied.

“Navorsing toon dat ’n groot persentasie laerskoolonderwysers nie oor voldoende vakkennis beskik nie. Daarbenewens het Akademia ’n toenemende aantal navrae vir ’n kwalifikasie in intermediêre fase-onderwys ontvang.”

Du Toit meen dat die instelling se BEd-kwalifikasie uniek is in die sin dat vakkundige verdieping in jare een en twee plaasvind, terwyl daar terselfdertyd van die praktyk geleer word. In jare drie en vier word daar gefokus op die ontwikkeling van vakonderwyskennis – die belangrike kennis waaroor ’n onderwyser moet beskik, en wat ook eie is aan onderwyser-wees. Hy vertel verder dat studente in dié twee jaar teoreties opgelei word en ook ervaring in die praktyk opdoen. Verder word die teorie en die praktyk deurlopend geïntegreer om te verseker dat daar voldoen word aan die beginsels van samehang en progressie.

Hierdie gesogte kwalifikasie is deur professore en vakkundiges landwyd ontwikkel om uiteindelik in die groot behoefte aan goeie onderwysers vir hierdie fase te voorsien. Nadat ’n deeglike proses gevolg is, geniet die kwalifikasie akkreditasie by die departement van hoër onderwys, en is dit by die Suid-Afrikaanse kwalifikasieowerheid geregistreer. – Reon Janse van Rensburg/Solidariteit

You need to be Logged In to leave a comment.