Sammy Goedeman, die wyksraadslid vir Breedevallei-munisipaliteit se wyk 19, het hande gevat met Standard se lees-en-leer-projek deur koerante te skenk aan skole in en om Rawsonville.
Wyk 19 is die gebied tussen Du Toitskloof Lodge, Rawsonville, tot by Doringrivier naby Villiersdorp.
Vanjaar het Goedeman dit egter ’n stappie verder geneem deur ook sanitêre doekies aan die meisies van die onderskeie skole te skenk.
Slanghoek Primêr was eerste aan die beurt en juffrou Dedré Prins was baie dankbaar dat haar klas koerante ontvang het.
Laerskool Rawsonville was sò opgewonde dat vyf taalonderwysers opgedaag het om die koerante te ontvang, saam met die graad 7-leerders.
Skoolhoof Ronel Manuel van Lorraine NGK Primêr was baie dankbaar vir die skenking vanaf Goedeman.
“Ons as skool sê dankie vir die sanitêre doekies en die Standard-koerante,” sê Manuel.
By Hoërskool Goudini was die landboutegnologie-klas en die graad 8 Afrikaanse klas die ontvangers van altesaam 60 Standard’s.
’n Graad 7-leerder, Nadine Pieterse van Weltevrede NGK Primêr, het namens die skool vir Goedeman bedank.
“Ek moet van my kant af Clara Meyer, die speaker by die Wynland-distriksmunisipaliteit bedank, want sy het al die sanitêre doekies geskenk. Dit is vir my belangrik om taal te bevorder in ons skole. Dit is waarom ek dink die Standard-koerante wat ons uitgedeel het gaan ’n groot rol speel by ons kinders. Dit gaan hul meer leer oor hul omgewing, die mense en nuus van daardie omgewing,” sluit Goedeman af.
Ondernemings of mense wat by die projek betrokke wil raak, kan Nigel Ranchod by 023 348 5101 bel.