’n Winkelsentrum-uitstappie wat deur ’n Witzenbergse kinderhuis gereël is, het daartoe gelei dat die bemarkingsbestuurder van dié winkelsentrum sedert begin vanjaar ’n grootskaalse insameling vir die kinderhuis van stapel gestuur het.
“Robin Furniss van Steinthal Kinderhuis het my einde verlede jaar kom spreek om ’n uitstappie vir sy personeel na die Mountain Mill Mall te reël. Ek en hy het toe begin gesels omdat ek nog nooit van dié kinderhuis gehoor het nie,” vertel Arie Fourie.
Die Steinthal Kinderhuis is net buite Tulbagh geleë en bied ’n veilige hawe aan 150 kinders tussen twee en 18 jaar wat weggeneem is van hul huis.
“Ek het so ’n maand gelede op ’n Sondag by die kinderhuis gaan kuier. Wat my beïndruk het, was hoe netjies en mooi alles opgepas is ten spyte daarvan dat daar min van alles is.
“Dit het my hart gebreek toe ek sien dat die meisietjies gemeenskaplike teddies het en dat die teddies ná speeltyd gebêre moes word. Elke kind het sy eie teddie nodig!” sê Fourie.
“Omdat só min mense weet van hierdie kinderhuis, het ek besluit om mense bewus te maak van hul nood.
“Ek glo dat die Here my as instrument wil gebruik om hierdie kinders te help,” sê hy.
Hy vertel dat hy vroeg vanjaar inligting oor die kinderhuis op sosiale media begin versprei het.
“Groot was my verbasing oor die mense van Worcester en omliggende gebied se reaksie! Mense het tweedehandse teddies en kinderklere begin aandra en die inligting gedeel.
“Ons het tot dusver gazebo’s, ’n opslaanswembad, ’n trampolien en selfs twee skootrekenaars al ontvang. Daar is ook ’n wendyhuis geskenk wat as ontspanningslokaal gebruik kan word, maar daar is nog niks daarbinne nie,” vertel Fourie.
Volgens hom is daar nou al heelwat mense betrokke by die projek. Marike Meiring, ’n finalis in die Mej. Tiener Suid-Afrika en Face of Africa-kompetisies, is deur Fourie aangestel as ambassadeur van hierdie projek sodat sy op skoolvlak met ander tieners kan gesels om hulle betrokke te kry.
Hy vertel opgewonde van die pretdag wat hulle vir 5 Maart by die kinderhuis beplan.
“Ons wil daardie dag alles wat ons kon insamel, aan die kinders gaan uitdeel.
“Dee-Dee Geldenhuys en twee van haar sangervriende sal optree, ons sal worsbroodjies uitdeel aan die kinders en daar sal springkastele wees en mense wat die kinders se gesiggies verf.
“Ons nooi almal uit om te kom deel in die pret!” sê Fourie.
Mense wat iets wil skenk vir Steinthal se kinders, kan dit gedurende sake-ure afgee by Elizabeth Verwoerd by Kids Emporium in die Mountain Mill-sentrum (haar nommer is 082 828 4108) of bel Fourie by 083 822 6698 vir ’n lys van benodigdhede.
Bel Furniss by die Steinthal Kinderhuis by 023 230 1031 vir meer inligting.