Trekkers, oesmasjiene, spuitkarre . . . Noem dit en die span van Rawsonville Garage staan gereed om dit te diens en te herstel.
Dié ikoniese onderneming in Rawsonville se hoofstraat is al sedert 1982 aan die gang en ’n staatmaker onder die plaaslike gemeenskap, veral landbouers.
Aan die stuur van sake is Chris van der Westhuizen, wat al die afgelope 33 jaar Rawsonville Garage se reputasie sorgvuldig bou.
En danksy toegewyde, noukeurige werk, was dit vir Van der Westhuizen moontlik om in 1994 reeds ’n Landini-agent te word. Dié vervaardiger fokus baie sterk op die bou van hul markaandeel deur ’n moderne produkreeks, vertroue in die handelsmerk en natuurlik produk-ondersteuning soos wat by Rawsonville Garage verskaf word.
Pellenc is in 2004 bygevoeg tot die Rawsonville-onderneming se agentskapslys. Dié vervaardiger, wat in Frankryk gebaseer is, verskaf al die afgelope 40 jaar innoverende oesmasjiene aan landbouers wat wil meganiseer, en maak staat op ondernemings soos hierdie vir ’n goeie produk-ondersteuningsnetwerk.
Agrimaster voltooi die driekuns van agentskappe. “Dit is wat ons laat groei het; waarop hierdie besigheid gebou is,” sê Van der Westhuizen.
Twaalf personeellede – vier werktuigkundiges, vier algemene werkers, drie administratiewe personeellede en Van der Westhuizen as bestuurder en direkteur – werk as ’n goed geoliede span saam om kliënte met vinnige, gehaltediens te help om te verseker dat masjinerie vir die kortste moontlike tyd stilstaan. Rawsonville Garage kan bereik word by 023 349 1401.