Rawsonvillers sê hulle het baie om oor positief te wees.

Melody Botha, uitvoerende hoof van die Breedekloof Wynvallei, sê danksy die streek se groot aantal selfsorgeenhede en kampeerplekke is akkommodasiegeriewe veral naweke lekker vol. “Dit is wat die mense van die stad soek. Hulle soek daardie rustigheid en die natuur weg van die hustle and bustle van die stad,” sê Botha.

Die Breedekloof maak ook vinnig naam as troubestemming, wat meebring dat akkommodasiegeriewe gevul word met gaste wat oorslaap.

Besoekers word verder, as deel van ’n nuwe strategie, regdeur die jaar met ’n reeks kleiner byeenkomste soos die Gravel & Grape-bergfietsren, die Old N1 Country Craft-bierfees en Soetes & Sop (22 en 23 Julie) gelok.

Botha glo die opgradering van Rawsonville se hoofstraat sal ’n positiewe uitwerking op toerisme hê, en Sammy Goedeman, wyksraadslid vir die dorp, stem saam. “Dit gaan definitief ’n aanwins wees vir die dorp se mense,” sê hy en verduidelik dat motoriste voor die opgradering dikwels eerder N1 langs gery het, net om die hoofstraat te vermy. “Dit sal die besighede baie baat.”

Ander verwikkelinge om oor opgewonde te wees, is volgens hom die moontlikheid van ’n groot stuk grond wat aangekoop kan word vir die ontwikkeling van ’n paar honderd laekostehuise. Die groot doel hiervan, sê hy, is om afgetrede agriwerkers maar ook inwoners van die informele nedersetting oorkant De Nova, Geelkampie, te kan akkommodeer.

Daar is verder sprake van ’n supermark wat moontlik op die dorp ontwikkel kan word.

Henry Hall van Realtors International, wat die langverwagte Breedezicht-ontwikkeling bemark waarvan die eerste bakstene verlede week gelê is, sê die deur vir ontwikkeling is verlede jaar weer oopgesluit. “Die ontwikkelingspotensiaal van die juweel (Rawsonville) is vir verskeie jare gekniehalter deur ’n tekort aan grootmaatdienste. Die Breedevallei-munisipaliteit het egter verlede jaar grootmaatdienste in die dorp opgradeer. “Rawsonville is soos die Frankryk van Suid-Afrika: ’n plattelandse atmosfeer met gesellige kuiermense en heerlike wyn. Besoek net die goed bestuurde ouetehuis om te sien hoe hierdie gemeenskap se harte warm klop vir hul eie en hoe die mense van die omgewing met ’n vrygewige hand omsien na die bejaardes in hulle gemeenskap.”

Hall sê die ligging is ideaal vir aftrede of sakemanne wat tog naby aan groot metropole en lughawens wil wees maar meer van tegnologie kan gebruik maak om hulle dagtaak te verrig.

Wat die wyn betref is Botha opgewonde oor die erkenning wat stadig maar seker meer word, al verdien die streek dit al lankal. Sy noem as voorbeeld van die vooruitgang die Chenin Blanc-inisiatief, wat verlede jaar op die been gebring is en daarop gemik is om die streek se sterk posisie met dié wynsoort selfs verder uit te brei.

Dit, tesame met die groot hoeveelheid wyn wat goed vaar in die mark en kompetisies, is besig om die streek te vestig as een wat kers vashou by enige ander in die land. “En dit is baie positief vir die hele area,” sê Botha. “Hoe beter die profiel van die hele distrik, hoe beter is dit vir álmal in die streek,”

You need to be Logged In to leave a comment.