‘n Simulasie waarin ‘n botsing tussen ‘n olietenkwa en ‘n klein vragmotor nagboots is, is Woensdag net buite Rawsonville gehou.
Die rampbestuur-afdeling van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit – in vennootskap met Santam die Breedevallei-munisipaliteit – het die simulasie-oefening uitgevoer.
Die simulasie het sleutelrolspelers in staat gestel om reaksie, kommunikasie, samewerking en medewerkende reaksies tydens ’n rampsituasie te evalueer. Die scenario vir hierdie simulasie was ’n reproduksie van ’n botsing tussen ’n olietenkwa en ’n klein vragmotor met ’n paar passasiers, en het net voor die weegbrug buite Rawsonville op die ou N1 plaasgevind.
Die vennootskap tussen Santam en die KWDM mik om projekte waarin risiko’s geïdentifiseer en “versag” word, saam te stel. Hiérdie simulasie se oogmerk was die beskerming van lewens, eiendom en die omgewing tydens ’n ongeluk wat gevaarlike materiaal behels. Die distriksmunisipaliteit se rampbestuur-afdeling en Piet Smit van SIMU3 het die geleentheid beplan en van stapel gestuur.
Die eerste fase was om sleutelrolspelers te identifiseer en ’n ‘lessenaar’-oefenlopie, voordat die werklike simulasie plaasgevind het. Die prosedures wat gevolg is, word bepaal deur ’n internasionaal aanvaarde stelsel om voorvalle en gebeure te bestuur.
Die voorval is om 10:18 verklaar en die eerste respondente op die toneel het onmiddellik die veiligheidsprotokolle geïmplementeer. Dit het onder meer behels dat die pad gesluit is, die nodige hulpbronne gestuur en die toneel beveilig is. Dit moet heel eerste plaasvind voordat daar na beseerdes omgesien word.
In die geval van gevaarlike materiaal moet ’n dampe-onderdrukker onmiddellik aangewend word. Nadat dit voltooi is, kon mediese nooddienste die beseerdes veilig evalueer en behandel terwyl die brandweerdiens, bygestaan deur Spilltech, kon voortgaan met die afsondering, indyking en afdamming van die gevaarlike materiaal.
Om die voorval meer geloofwaardig te maak, het ’n groep studente van Stenden South Africa die rolle van beseerdes en “voor op die wa”-joernaliste vervul. Die gebeurtenis is teen 11:25 gedemobiliseer.
Vele rolspelers is tydens enige reddingspoging betrokke, en hierdie simulasie was geen uitsondering nie. Respondente het die Rawsonville-polisie, mediese nooddienste, brandbeskermingsdienste, provinsiale en plaaslike verkeersdienste, die Breedevallei-munisipaliteit se brandweer- en kommunikasiedienste, en die brandweer-, ramp- en kommunikasiedienste van die distriksmunisipaliteit ingesluit. Verteenwoordigers van die departement van landbou en omgewingsake was ook op die toneel.
Die distriksmunisipaliteit het namens die deelnemers dank betuig teenoor Spilltech, GRW en Du Toitskloof Wyne vir hul betrokkenheid en ondersteuning van die oefening. “Dankie aan die private entiteite wat sonder huiwering ingestem het om deel van hierdie uiters belangrike oefening te wees.”
Tydens die nabespreking het Piet Smit van SIMU3, wat deur Santam gekontrakteer is om die simulasie en evaluering uit te voer, gesê alle rolspelers het hulle werk 100% verrig.
“Almal het geweet wat om te doen en wanneer om dit te doen. Ek wil graag aan al die betrokkenes baie geluk sê.”
*Simulasies word gehou om te verseker dat alle dienste gereed staan om te reageer, en hoewel daar gepoog word om ’n scenario te skep wat so na as moontlik aan die werklikheid is, moet daar op gelet word dat geen olie of ander gevaarlike produk op enige stadium gebruik is nie.