Altesaam 16 rieldansers van Worcester Sekondêre Skool gaan later vanjaar die riel aan die Belge bekendstel.
Dié groep dansers is na die 50ste De Pikkeling-fees in die Europese stad Aalst genooi. Dis ’n jaarlikse folklore- gebeurtenis waar diverse buitelandse groepe en Vlaamse en Belgiese folklore- groepe deelneem en optree. Die fees trek jaarliks duisende feesgangers omdat die toegang gratis is.
Die groep rieldansers bestaan uit leerders van gr. 8 tot 12.
Indien finansies dit toelaat, vertrek dié groep 24 Julie en hulle sal weer 31 Julie terugkeer.
’n Onderwyser wat as koördineerder van die uitreik optree, Natasha Africa, sê dis ’n genotvolle geleentheid waarby die leerders terselfdertyd gaan baat vind. “Ons eerste uitreik na België was met die kontemporêre dansers in 2016. Die leerders leer oor kulturele diversiteit, eet ander geregte en word aan ander danssoorte blootgestel,” sê Natasha.
Sy sê die leerders woon in Roodewal, Avianpark en Riverview en hul omstandighede tuis is nie altyd breed om ’n reis oorsee te verwesenlik nie. “Dit mag dalk een van hul grootste gebeurtenisse wees wat hulle in hul skoolloopbaan sal beleef,” sê Natasha.
Die skool het vroeg vanjaar geldinsamelingsprojekte aangebied. In Mei hou die skool ’n talentkompetisie en braai ten bate van die leerders se reis. . Mense wat dalk meer inligting oor die geldinsamelingsprojekte wil hê of om skenkings te maak, is welkom om die skool by 023 342 0857 te skakel.