Rioolprobleme blyk een van die min konstante dinge in Worcester te wees.
Talle inwoners moes hierdie feesseisoen elke tweede of derde dag gebuk gaan onder die stank van rou riool en die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) moes bontstaan om by al die rioolverstoppings en oorstromings uit te kom.
Volgens ’n verklaring van JP Myburg, die BVM se woordvoerder, het die meeste rioolverstoppings in die gebiede Avianpark, Zwelethemba, Roodewal en by die Riverview-woonstelle voorgekom. Hy sê ’n noodsaaklike waterpyp by die Zwelethemba-brug het op 24 Desember 2021 gebreek en werkers moes hul tyd behoorlik tussen al die onderskeie klagtes verdeel om gehoor te gee aan die probleme wat die gemeenskap geteister het.
“Die BVM se spanne het soos gewoonlik gewerk aangesien die water- en rioolafdeling ’n basiese diens aan ’n ieder en ’n elk in die omgewing moet lewer. ’n Volledige bystandlys is vir die feestyd opgestel. Party personeel het wel verlof oor die groot vakansiedae geneem, maar alle stelsels was gereed om te verseker dat dienste op enige gegewe tydstip gelewer kan word,” sê Myburg.
Hy verduidelik baie tyd is veral aan rioolverstoppings oor die feestyd bestee. Hy voeg by sommige verstoppings neem tot drie tot vier uur om oop te maak, en baie kere sit die JetVac (oopsuigtoestel) se mondstuk vas as gevolg van die vreemde voorwerpe wat in dié stelsels beland.
Volgens hom bestee die BVM- spanne sowat 80% van ’n dag in hierdie geïdentifiseerde gebiede om probleme op te los, en in baie gevalle moet hulle twee tot drie JetVacs (insluitend gehuurde vragmotors) by sekere verstopping kry om dit oop te maak.
“Die uitdagings wat tans ervaar word, is dat sekere ou infrastruktuur vervang moet word, tyd moet bestee word om dit te herstel eerder as om nuwes te bou, en die konstante stryd teen vreemde voorwerpe.
“Vandalisme is ’n groot uitdaging – dit dra grotendeels by tot die probleme wat ervaar word in gebiede waar riool veral ’n probleem is. Vreemde voorwerpe word gereeld uit die pype gehaal, soos klippe, lappe, blikke, takke, motoronderdele ens. Die toename in die beskadiging van munisipale infrastruktuur het egter ’n gebrek aan dienslewering en massiewe versekeringseise en dan uiteindelik riooloorstromings tot gevolg gehad. Die vervanging van mangatdeksels en watermeters alleen beloop derduisende rande per jaar. Dit veroorsaak ook dat geld wat aangewend kon word om ander dienste te verskaf of te verbeter, nou vir die herstel van dié skade gebruik moet word. Indien vandalisme nie gestuit word nie, gaan ons erger en groter risiko’s in die gesig staar,” verduidelik hy.
Myburg sê die munisipaliteit se fokus is tans op opgraderingswerk en hy voeg by dat die BVM uiteindelik op nodige herstelwerk en opgraderings aan dié stelsels kan fokus – veral in gebiede waar die probleme ontstaan en die druk net te hoog is vir die bestaande stelsels om die druk te kan hanteer.
“Ons gemeenskappe verdien net die beste, maar ons is ook net mense. Ons spanne probeer hul uiterste bes om gehoor te gee aan dit wat pla en te kort kom in die gemeenskap. Saam is ons sterker en kan ons ’n rioolvrye omgewing skep,” verduidelik Myburg.
“Ons doen dus weer eens ’n beroep op inwoners om behulpsaam te wees met die bekamping van vandalisme en om op die uitkyk te wees vir voorvalle soos die beskadiging van infrastruktuur. Help ons asseblief om hierdie vandalisme te stuit,” pleit Myburg by die gemeenskap.
wat sê inwoners
Inwoners het oor die feestyd hulle frustrasies op Facebook gedeel en gesê hulle is nou keelvol oor rioolprobleme, aangesien hul gesondheid daaronder ly.
Een inwoner van Mossiestraat in Avianpark verduidelik die BVM het al verskeie kere na die probleem “kom kyk”, maar kan dit nie oplos nie.
Inwoners in Riverview moes Oukersdag self inspring om rou riool weg te vee. Dieselfde het in Roodewal “oor die hele Desembertyd” gebeur.
Myburg sê die BVM doen ’n beroep op die publiek om probleme op die regte plek en manier aan te meld.
“ ’n Mens kan nie op sosiale media kla oor die probleem en foto’s plaas met die hoop dat dit gesien en dan opgelos gaan word nie. Gebruik eerder die tyd om die inbelsentrum te kontak, kry die nodige verwysingsnommer en volg die regte prosedures om so gou as moontlik hulp te ontvang,” verduidelik hy.
. Alle diens-verwante probleme kan aangemeld word by 0860 12 12 12.