Die alombekende Dihan van der Walt, onder spanmaats en ondersteuners bekend as “Buffel”, het pas die seisoen by Robertson Town afgesluit en verhuis binnekort na die noorde waar hy hom in Januarie by die Northam Rhinos-rugbyklub in Gauteng sal aansluit.
Van der Walt – oorspronklik van Heidelberg – sê sy besluit om te verhuis was nie maklik nie, maar nadat die klub hom met ‘n werksaanbod genader het, het hy alles opgeweeg en besluit om die geleentheid ten volle aan te gryp. Hy sê hy is positief oor die skuif en weet dit gaan aan die begin ‘n aanpassing in die vreemde wees, maar hy glo hy sal sy voete vind. Ná twee jaar by Robertson meen hy dit is die mense wat hy die meeste gaan mis omdat hy in die kort tyd aan hulle geheg geraak het.
Hul opregtheid het vir hom ‘n liefde vir die dorp laat ontwikkel, wat hy vir ewig sal koester. Van der Walt, wat voorheen ook vir Worcester Villagers en Tygerberg gespeel het, sê sy liefde vir rugby het hom met baie mense laat paaie kruis en het hom die mens gemaak het wat hy vandag is. Sy motivering in die lewe en raad aan veral jongmense en opkomende rugbyspelers is om jou met opregte vriende te omring – juis omdat vriende jou kan maak of breek.
Doelgerigtheid is iets waarna hy daagliks streef, sonder om hoogmoedig of selfversekerd te wees.
Van der Walt bedank sy afrigter, John Booysen, sy Robertson-spanmaats en die breë gemeenskap van Boland-rugby asook sy vorige klubs, Worcester Villagers en Tygerberg.
Hy meld op 5 Januarie 2026 by die Northam Rhinos aan. – Luciano du Toit




