Saterdag 2 September het Robertson Town in die Van Zylstraatstadion in Robertson seker gemaak dat hulle as Grootuitdaag-kampioen van die Langeberg-afdeling gekroon word toe hulle Worcester Villagers in ’n spannende wedstryd met 37-31 verslaan het.

Dié wedstryd self het soos gewoonlik groot belangstelling gelok met ’n stampvol stadion. En dit het beslis aan al die verwagtinge voldoen, want sommer van meet af aan het die vonke tussen die twee spanne behoorlik gespat.

Villa het kort voor die wedstryd begin het ’n gevoelige verlies gely toe sy kaptein en haker, Johannes Geldenhuys, hom weens werksverpligtinge moes onttrek. Sy plaasvervanger, Beuren Dreyer, het hom egter goed van sy taak gekwyt.

Die wedstryd self het vir Town op ’n hoë noot afgeskop toe die heelagter, Jandré (Nag) Joseph, ná ’n volle agterlyn-beweging oorgaan vir ’n drie wat die losskakel, Collin Willemse, verdoel.

Die telling groei na 12-0 toe die slot, Curtley Timm, oorgaan vir ’n onverdoelde drie.

Villa slaan hierna met mening terug toe ’n bal los spat en die losskakel, Gershwin Joubert, dit opraap en onder die pale gaan kuier vir ’n drie wat hy self verdoel.

Kort voor rustyd slaag Willemse egter met ’n strafskop om die telling op 15-7 te staan te bring.

Ná rustyd gaan die linkervleuel, Lindsay (Grimmy) Eksteen, oor vir ’n drie wat verdoel word.

Die agterstand krimp na 22-19 toe die kaptein en agsteman, Edward Haas, oorgaan vir ’n drie en kort daarna gaan druk die buitesenter, Henrico Jacobs, en Joubert verdoel.

Hierna slaag Willemse met nog ’n strafskop voordat Villa die voortou neem met ’n drie deur die plaasvervangerflank, Zaydon Adams, verdoel deur Jadrian de Klerk om vir Villa ’n voorsprong van 26-25 te verseker.

Town neem egter weer die voortou toe die plaasvervanger-regtervleuel, Rune Lucas, oorgaan vir ’n drie. Die telling groei aan na 37-26 toe Joseph vir sy tweede drie oorgaan.

Villa slaan egter hard terug toe die linkervleuel, Cubitt Micheals, oorgaan vir ’n drie wat ongelukkig ook nie verdoel kon word nie.

Hierna volg ’n paar benoude oomblikke vir die tuisspan met Villa wat knaend aanval en groot druk op die verdediging plaas.

Een so ’n beweging loop uit op ’n blatante aanslaan deur Town wat op ’n skrum in ’n aanvallende posisie reg voor hul doellyn moes plaasvind. Om een of ander rede blaas die skeidsregter die wedstryd af met nog vier minute amptelike speeltyd oor om aan Robertson ’n ietwat vleiende oorwinning te besorg.

Saterdag 9 September speel Villa sy laaste wedstryd vanjaar tuis teen Montagu Villagers terwyl Robertson na Ashton reis vir sy laaste amptelike wedstryd teen die tuisspan, Ashton United.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article