Die De Doorns-poskantoor is Dinsdag (12 Januarie) deur gewapende rowers geteiken. Die rowers is na ‘n jaagtog en wilde skietery buite Paarl aangekeer, toe hulle hul bakie gerol het. Een rower is dood.
Volgens ’n polisiewoordvoerder het die rowers na bewering Dinsdagoggend omstreeks 11:20 die poskantoor binnegekom. “Een van die verdagtes het na bewering die persoon agter die toonbank vir R350 gevra. Toe die poskantoorwerker omdraai, het hy in die loop van ’n wapen vasgekyk.”
Die verdagte het toe die sleutels van die kluis gevra.
“’n Bedrag van R21 1939 is in geldsakke uit twee kluise en twee kasregisters geneem. Hulle het ook 250 Sassa-kaarte geneem voordat hulle van die toneel gevlug het.”
Die polisie is nie seker of daar vier of vyf rowers was nie. Volgens inligting wat deur die De Doorns-polisie ontvang is, was een van die verdagtes egter buite die poskantoor in ‘n voertuig.
“Dié verdagte het die ander in ’n goudkleurige Toyota Hilux-bakkie met die registrasienommer CF 175 785 ingewag.”
Ná die rooftog het die rowers na die N1 gejaag, waar die polisie ook ondersteuning van die plaaswag ontvang het.
“Deon Joubert van die Hexvallei-plaaswag het die voertuig al langs die N1 gevolg, terwyl hy die betrokke polisiekantore gevoer het met inligting oor die verdagtes se posisie. Hy het hulle tot by Rawsonville gevolg.”
Joubert sê in ‘n verklaring die plaaswag ‘n oproep ontvang oor die roof en poskantoor-werknemers wat vasgebind is. “Net voor Rawsonville het ons stilgehou agter die voertuig, wat teen hierdie tyd talle polisievoertuie agterna gehad het.”
Volgens inligting was die polisie en verdagtes ook in ‘n skietgeveg betrokke terwyl die polisie probeer het om die bakkie in te haal. Die verdagtes is later aan die Paarl se kant van die Du Doitskloofpas opgemerk.
“Hulle is toe deur die polisie aan daardie kant van die pas gevolg. Terwyl hulle agtervolg is, het die bakkie waarin hulle gery het gerol, wat daartoe gelei het dat een van die verdagtes op die ongelukstoneel gesterf het,” het die polisiewoordvoerder gesê.
Die woordvoerder het bevestig die verdagtes is in hegtenis geneem en die gesteelde goedere en wapens is teruggevind.
. In ‘n afsonderlike voorval is ‘n transitowa van R800 000 op Maandag 3 Januarie beroof.
“Die voorval het net ná 15:00 voor Unika Winkels gebeur. Niemand is tydens die voorval beseer nie en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”
Dit is in dié stadium onduidelik of die twee rooftogte deur dieselfde verdagtes uitgevoer is.