Amptenare van die departement van water en sanitasie en plaaslike leiers van die Breedevallei-munisipaliteit het Rawsonville Primêr Vrydag (30 Oktober) vereer.
Die skool het aan die Baswa le Meetse-kompetisie deelgeneem waar die leerders as naaswenners uit die nasionale kompetisie getree het. Die departement van water en sanitasie het as deel van die prys ’n bedrag van R15 000 aan die skool oorhandig.
“Ons is baie trots op die skool se prestasie – veral die jongmense wat op ’n innoverende wyse deur middel van drama gewys het hoe mense water moet bespaar,” het Simpiwe Maschicila, die waarnemende provinsiale hoof van die departement, gesê.
Maschicila het die jongmense van Rawsonville Primêr aangeraai om aan te hou droom en hard te werk om hul drome te verwesenlik. Hy het genoem sy departement het hulpbronne beskikbaar vir jongmense wat graag ’n loopbaan in dié rigting wil volg.
“Ons het jongmense in ons plaaslike munisipaliteit nodig om die drywers van innovering te word. Die kompetisies help jongmense aanspoor om groter te droom en ons is trots op die groep wat so goed gevaar het,” het Seon Swartz, die direkteur van gemeenskapsdienste by die Breedevallei-munisipaliteit, gesê.
Rawsonville Primer se dramagroep het die prys met breë glimlagte ontvang en die ervaring as groot pret beskryf.