Die Toyota Stellenbosch Woordfees word van 11 tot 19 Oktober tydens die ikoniese Stellenbosse lente aangebied.

Die fees vier 25 jaar van kuns, kultuur, stories, smaak en vermaak met ‘n omvang­ryke program, winskopies en ‘n tema wat jou nooi om “deel” te neem en deel te wees. Met byna 400 aanbiedings in 12 afdelings gaan gesing, gedans en gekyk.

Bring jou kampstoel, kombers en kuiermense vir die Toyota-musiekfees se gewilde opelugkonserte by die Jan Ma­rais-natuurreservaat. Die musiekfees bring die vibe na die Bos met verto­nings deur Will Linley, die Soweto String Quartet, Early B, Mandisi Dyantyis en Die Piesangskille.

Gehore sal weer deur topkore bederf word. Voces Cordis is terug met ‘n boeiende program onder leiding van André van der Merwe. Ook die Tygerberg- kinderkoor, Voices+ en lede van die Universiteit van Johannesburg-koor (Miracle Tree) tree vanjaar op. Aurum Cantores vier Afrikaanse koorwerk met twee blinknuwe uitvoerings in Sing jou lied. Ander kore is Cape Town Camerata, Overberg Women’s Choir (O fire of the Spirit) en die bekroonde Zolani-jeugkoor (New South African Gems).

Teaterhoogtepunte op die Spier- toneelprogram sluit in die langverwagte terug­keer van Breyten Breytenbach se Boklied onder regie van Marthinus Basson, Die ander dogter met Sandra Prinsloo, Liefde, Lafras met Antoinette Kellermann, die wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys vir teater, Huis van sand, deur Dianne du Toit Albertze, sowel as die naaswenner, Die kabinet, deur André Gerber.

Die Diskoersprogram is heeltemal gratis met ‘n mondvol gespreksreekse oor wetenskap, politiek, kuns, wyn en die groot honderd vir Afrikaans as amptelike taal.

Jaco van der Merwe bewys met sy uitstekende Filmfeesprogram daar is steeds behoefte om flieks op die grootskerm te sien. Die Clermont-Ferrand- internasionale kortfilmfees is die wêreld se grootste kortfilmfees – naas Cannes die grootste filmfees in Frankryk. Pensioentrekkers van 65 en ouer kry elke Dinsdag 10% afslag op ‘n lys uitgesoekte programitems. Besoek woordfees.co.za vir besonderhede.

Die Toyota Stellenbosch Woordfees bedank Het Jan Marais Nationale Fonds, Toyota, die Universiteit Stellenbosch, Netwerk24 en die Spier-wynlandgoed – om maar net ‘n paar te noem.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article