Sassa-beunstigdes het verlede Donderdag (20 Maart) op Sassa se afsnytyd vir nuwe kaarte in lang rye gestaan om hul goue Sassa-kaarte vir die swart Postbank-kaarte te ruil.

‘n Kankerlyer van Worcester het groot geskrik toe hy hoor dat sy Sassa-kaart reeds uitgereik en die geld onttrek is tydens sy oorskakeling van die goue na die swart Postbankkaart.

Ettienne Fourie vertel hy en sy seun Wesley (37) het om Wesley se nuwe kaart by Durbanstraat in Worcester aansoek gedoen. “Ons het al die vorms ingevul en inligting gegee wat nodig was. Die toestel wat die vingerafdrukke moes neem, was egter stukkend en die

beamptes het gesê hulle weet nie wanneer dit weer sal werk nie,” het Fourie gesê. Hulle het besluit om huis toe te gaan omdat sy seun sleg gevoel het.

Sassa het intussen die sperdatum tot 20 Maart verleng en hulle het besluit om eerder aansoek te doen dat die geld in sy bankrekening inbetaal word.

“Ons het op Woensdag 5 Maart geld uit die rekening probeer onttrek, maar die kaart is geweier. Ons het by verskeie OTM’s probeer en is na Postbank toe, waar hulle vir ons gesê het dat ‘n kaart reeds aan hom uitgereik is. Hulle het gesê die ou kaart moet geblok word en hy moet om ‘n nuwe kaart aansoek doen.”

Hulle moes egter by die Sassa- kantoor hoor dat die geld in sy rekening reeds op 5 Maart onttrek is. Hulle is aangesê om tien dae te wag sodat hulle ondersoek kan instel.

“Dit is al inkomste wat hy het en hy is baie bekommerd,” het Fourie gesê.

‘n Moedelose Fourie het na die Kankervereniging (Kansa) uitgereik vir hulp. Gretchen Minnaar, dienstebestuurder by Kansa in die Paarl, het gesê sy het met Sassa se Wes-Kaapse bestuur geskakel. Die saak is aangestuur na die betalings-

afdeling vir verdere ondersoek.

Sassa het ook aangedui dat hulle daarna sal kyk om bedlêende pasiënte tuis te help om oor te skakel na betalings in hul bankrekeninge.

Die oorskakeling na die nuwe kaart het baie Sassa-begunstigdes hoofbrekens besorg met lang rye waarin hulle ure lank moes wag – soms in bloedige hitte.

In Worcester, die naaste

betaalpunt waar inwoners van die Langeberg-munisipaliteit (Robertson) hul kaarte kon ruil, het moedelose begunstigdes op Donderdag 20 Maart – die sperdatum vir die kaartruilings – oor hul frustrasie gedeel.

‘n Vrou het vertel dat sy meer as R260 vir vervoer moet betaal wanneer sy in die ry kom staan, omdat sy ver woon. Nóg ‘n vrou het vertel dis die vierdie dag dat sy in die ry staan en sy was bekommerd dat sy steeds nie betyds gehelp sal kan word nie.

Hoewel die sperdatum verby is en begunstigdes nie meer geld uit hul goue kaarte kan onttrek nie, kan hulle steeds om hul swart Postbank-kaarte aansoek doen, het Sassa in ‘n

persverklaring gesê.

Die afgelope week is agt Sassa-amptenare in hegtenis geneem in verskeie sake van bedrog.

Sassa het dié verwikkelinge verwelkom. “Sassa sal voortgaan om saam met wetstoepas- sers te werk en hulle van die nodige inligting voorsien sodat skuldiges suksesvol vervolg kan word,” het die nasionale woordvoerder, Paseka Letsatsi, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.