Die Scherpenheuwel Primêre Skool pronk met ’n nuwe klaskamer.
Die skoolhoof, Maryna Visagie, sê sy is baie dankbaar vir dié nuwe toevoeging tot die skool.
“’n Mens voel klein as jy sien hoe ’n gemeenskap na ander uitreik. Dit is nie net die plaasgemeenskap nie, maar ook die dorpsgemeenskap wat uitgereik het om die klaskamer hier te kry.
“Jy kan sien die kinders is trots om hier te wees en ek dink hulle sal die nuwe klaskamer geniet,” het Visagie gesê.
Die nuwe klaskamer is Donderdag 24 Augustus aan die gemeenskap, ouers, die direkteur van die Kaapse Wynland-skoledistrik, Jean Benjamin, en die kringbestuurder, Leon Rousseau, asook die uitvoerende burgemeester, Antoinette Steyn, gewys.
Visagie sê die nuwe klaskamer is als aan die Scherpenheuwel-vereniging te danke.
“Die vereniging bestaan uit plaaseienaars en lede van die gemeenskap. Ons hou elke tweede jaar ’n geldinsameling in die vorm van ’n wynveiling en die geld wat ons daar insamel, word vir die skool gebruik.
“Ons het aan die einde van verlede kwartaal besluit om die nuwe klaskamer op te rig.”
Die vereniging is in 2011 gestig.
Die voorsitter van die vereniging, Gerdie Hugo, sê hy is trots om deel van die projek te wees.
“Toe Maryna vir ’n nuwe klaskamer by ons kom aanklop, het ons vinnig ’n plan bedink. Dit is altyd lekker om te weet dat jy nie net iets vir die skool kan gee nie, maar ook iets aan die kinders. Sy sit baie in die skool in en ek hoop ons kan aanstaande jaar nog ’n klaskamer vir die skool gee,” het Hugo gesê.
Visagie het bygevoeg sy weet die onderwyser wat in die klaskamer gaan klas gee, gaan baie lekker met die kinders werk. “Die kinders gaan nou elke dag opgewonde klas toe kom om iets nuuts te leer.”