Worcester Legends se sokkerspanne vir spelers van ouer as 35 en ouer as 45. Foto: verskaf

Worcester Legends se sokkerspelers ouer as 35 en ouer as 45 het gedurende die naweek van 31 Oktober tot 2 November aan die Silver Spurs-toernooi by die Johnson Road-sportkompleks in Rylands in Kaapstad deelgeneem.

Hulle het Worcester se naam hoog gehou met die span (ouer as 35 jaar) wat gemengde welslae teen gedugte teenstanders soos Rygersdal, Baltic en Kensington behaal het en uiteindelik die plaateindstryd teen Blue Bells in ‘n titaniese stryd met 2-1 gewen het.

Die spelers het hul lywe op die spel geplaas om die plaateindstryd te wen. Volgens die spanbestuurder, Elrick Booyse, sien hy net goeie dinge vir sy span in die nabye toekoms.

Die span vir spelers ouer as 45 jaar het net so hard gespeel teen spanne soos Atlantis, Mzanzi, Hanover Park, Cape Town Spurs en Cape Legends, wat ‘n voormalige Bafana-Bafana-speler in hul geledere gehad het. Worcester Legends het in ‘n senutergende wedstryd teen die wenner van die toernooi, Hanoverpark, met 3-2 in die halfeindstryd verloor.

Dié sokkerspelers van Worcester het gewys dat hulle nog ver van oud af is en het toeskouers met hul vaardighede en vlugtige voete verstom. Theo Simons, die trotse spanbestuurder, was net vol lof vir sy spelers. Die twee spanne sien reeds uit na volgende jaar se toernooi.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article