Sensuswerkers in die Breedevallei sê as hulle nie hul salarisse kry nie, werk hulle nie ’n steek verder nie.
Terwyl Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) beloof dat die sensusopname vanjaar seepglad verloop, is daar egter probleme met die betaling van die veldwerkers op grondvlak.
Die groep wat verantwoordelik is vir die sensusopname in die Hexvallei het Vrydag 18 Maart hul misnoeë voor SSA se kantoor in Durbanstraat gaan uitspreek. Die groep beweer hulle het nog geen betaling vir die werk wat hulle tot dusver verrig het, ontvang het nie.
“Die dag voor die tiende toe sê hulle ons gaan die elfde pay. Die elfde toe is dit: ‘Julle gaan die 18 de pay’. Vanoggend (Vrydag 18 Maart) toe kry ons nog ’n boodskap dat ons eers die werk moet afhandel voordat ons betaal word,” sê ’n omgekrapte werker.
Volgens een van die werkers het ander provinsies en die Wes-Kaap se sensus-veldwerkers reeds hul geld ontvang, maar daar is probleme by die Kaapse Wynland-streek.
“As dit ’n stelselprobleem is, hoe is dit moontlik dat sekere mense geld ontvang het en ander nie? Ons het boodskappe gekry om ons bankbesonderhede op te dateer en dit het ons gedoen, maar nou vertel hulle vir ons dat hulle die afskrifte waarop ons ons bankbesonderhede moes invul, Kaap toe moet stuur om daar in te vul. So, wie lieg nou vir wie,” vra een werker.
Die groep sê hulle het sekere verwagtinge gehad en sê beloftes is aan hulle gemaak.
“Ons kan nie eens kos op die tafel sit nie, want ons word nie betaal nie. Ons werk in gevaarlike gebiede en stel ons lewe in gevaar vir hulle, maar hulle betaal ons nie,” sê nog ’n werker.
Die groep het Vrydag aan Standard gesê hulle gaan nie verder werk voordat hulle hul salarisse ontvang het nie.
’n Toesighouer vir StatsSA, Chantal David, wat ook nie haar betaling gekry het nie, verduidelik dit as volg:
“StatsSA het op 18 Januarie begin met die nasionale opleiding van veldwerkers vir die landwye sensus, wat vir Februarie geskeduleer is.
“Leerlinge is ingelig dat die opleidingstydperk sonder vergoeding sal wees en alle dokumentasie wat vir indiensneming vereis word, is saam met bankbesonderhede ingedien.
“Gedurende die nege dae se opleidingsessies – wat in ’n tydperk van vyf dae ingedruk is – is alles gedek oor salarisverwagtinge tot die sensus-telproses,” sê David.
Volgens haar was die finale kontrak eers op 3 Februarie gereed, wat hulle vir die maand geteken het. Sy sê die kontrak het nie die betaaldatum opgehad nie, maar aangesien die kontrak tot 28 Februarie was, het hulle almal verstaan ??dat die betaaldatum aan die einde van die maand sal wees.
“ ’n Nuwe stel oefenskyfies het Sondag 27 Februarie op die tablet-rekenaars wat ons gebruik om die inligting vas te lê, verskyn. Dit is die Dag 10-opleiding genoem. Nie een van die veldwerkers is op 28 Februarie hul salaris betaal nie, en by navraag is ons ingelig dat ons die Dag 10-opleiding moet lees. Op hierdie ‘nuwe’ skyfies het dit gesê werkers sal 10 dae nadat die kontrak beëindig is, betaal word.
“Ons is ingelig dat die kontrak verleng is en die einddatum nou 20 Maart sal wees. Werkers sou dus op 10 Maart ’n toelae ontvang wat deur die aantal dae gewerk, bepaal is. Talle ongelukkige werkers het nie die kontrakte hernu nie en het vandag nog steeds geen betaling ontvang nie.”
Sy sê slegs ’n paar werkers het die toelae op 10 Maart ontvang, terwyl ander mense ingelig is dat die bankbesonderhede op SSA se stelsel verkeerd is en weer ingevoer moet word. “Ander is weer ingelig dat dit weens finansiële beperkings was dat betaling nie aan almal gemaak is nie.”
StatsSA het Donderdag 17 Maart en Vrydag 18 Maart weer ’n paar mense betaal. Volgens David het hulle gebel, maar niemand kon antwoorde gee nie en StatsSA se nommer is vir oproepe gesluit.
“Toe ons die Worcester-kantoor probeer besoek, is ons by die hek, wat hulle toegesluit het asof ons misdadigers en nie werkers is nie, deur veiligheidswagte voorgekeer. In plaas daarvan om ’n oopdeur-beleid te hê en ons toe te laat om antwoorde te kry, het hulle selfs ’n polisieteenwoordigheid gehad. Dit is onaanvaarbaar aangesien hul optrede nie net ongrondwetlik is nie, maar hul integriteit is ook ter sprake,” sê David.
Sy sê dit is ’n kreet om hulp omdat hulle nie weet na wie om te draai nie.. Standard het Vrydagmiddag vir ’n ruk saam met die groep werkers vir Andy Reid, koördineerder van die Worcester-kantoor vir StatsSA, gewag, maar hy het te lank geneem om uit te kom. Dinsdag het ons Reid weer probeer kontak, maar hy was reeds uit die kantoor. Reid se kontakbesonderhede is Woensdagoggend aan Standard gestuur. Hy het gesê hy kan nie inligting oor die foon gee nie en sal die koerant later die oggend kontak. Geen antwoord is teen druktyd ontvang nie.