Leerders van die Pionierskool vir siggestremdes word die week met helikoptervlugte oor die dorp bederf.
Hierdie eens-in-’n-leeftyd-avontuur is deur die Fidelity-stigting, ’n lid van die Fidelity Services-groep, moontlik gemaak.
“Ons is nou al ’n hele paar jaar by die skool betrokke en het verlede jaar besluit om meer geld in te samel. Dis toe dat ons besluit het om vlugte vir die kinders te reël. Ons het die sitplekke vir ritte verkoop en ons het die helikopter verskaf,” verduidelik Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity Services-groep.
Individue en sakeondernemings het vir 100 kinders sitplekke ter waarde van altesaam R625 000 gekoop.
“Ons sal die meeste van die geld aan die skool en aan ons ander projekte gee. Ons het vyf organisasies waarmee ons werk, so geld sal ook aan die ander geskenk word,” sê Bartmann.
Die eerste groep kinders is Maandag vir hul vlugte van die Worcester-vliegveld af geneem. Die vlugte het oor drie dae plaasgevind om almal te akkommodeer. Die kinders het twee-twee ’n beurt gekry, met twee onderwysers telkens saam met hulle.
Standard het Maandagoggend by die vliegveld gaan inloer en al die kinders was baie gelukkig ná hul vlug oor die dorp.
“Dit was pret en die geraas van die helikopter het my nie bang gemaak nie,” het een van die leerders vertel.
Michael Bredenkamp, die skoolhoof, sê hierdie is ’n ongelooflike voorreg.
“Ons is almal opgewonde – veral die kinders. Dit is ’n geleentheid van ’n leeftyd vir hulle. Hierdie is ook ’n baie sensoriese ervaring vir hulle. Ons het ’n tydjie terug al begin om hulle vir hul vlugte voor te berei, en die uitdaging was om seker te maak hulle raak gewoond aan die geluid,” verduidelik Bredenkamp.