Inwoners is ontsteld na groot skade aangerig is in ‘n inbraak by Roodewal Primêre Skool in Worcester.
Onderwysers was teleurgesteld dat die tweede kwartaal van die skooljaar op so ‘n negatiewe noot begin het.
“Ons het net onlangs die opgradering van ons rekenaarklas en ons biblioteek voltooi en nou moet ons al weer geld insamel sodat ons die die groot skade kan herstel,” het Chester Williams, die rekenaaronderwyser, gesê.
Volgens AO. Vathiswa Jacobs, woordvoerder van die Worcester-polisie, het die diewe tussen 6 en 7 April toegang tot die gebou gekry.

Die hoof, Grenville Timm, het gesê hul rekenaars en ander duur toerusting is agter ‘n dubbele stel hekke toegesluit juis om dit veilig te hou.
Dit blyk dat die diewe toegang tot die gebou deur die dak verkry het.
Selfs muurproppe is afgeknip
“Vyf rekenaarskerms en muise, ‘n televisie, ‘n kitaar en ander klanktoerusting is gesteel. Groot skade is egter aangerig waar kabels geknip is, moontlik vir die koper. Die diewe het selfs die muurproppe van die drukkers afgeknip,”het Williams gesê.
“Ons rekenaar- en leesklasse het alles nou tot stillstand gekom daarom kan ons administrasie ook nie afgehandel word nie, omdat ons nie meer internettoegang het nie.”
Die skool het die rekenaarklas gebruik om die leerwerk visueel vir die kinders aan te bied sodat hulle dit beter verstaan.
“Ons is baie dankbaar dat lede van die gemeenskap ingespring het om ons te help. Iemand het laat weet dat hulle mense toerusting sien dra het. Nog inwoners het leidrade opgevolg en kon darem van die klanktoerusting terugkry,” het Timm gesê.
“Dit maak ‘n mens hartseer dat dit mense in die gemeenskap is wat die skool soveel skade aanrig.”
Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie en die polisie se ondersoek duur voort.
You must be logged in to post a comment.