Enrico Claassen

Die Kaapse landdroshof het twee voormalige verkeersbeamptes van die Ashton-verkeersafdeling en ‘n private individu stewige vonnisse opgelê nadat hulle vroeër op aanklagte van korrupsie skuldig bevind is.

Die hof het Karel Davids, ‘n wetstoepassingsbeampte, 12 jaar tronkstraf opgelê, terwyl Andile Dondolo, ‘n verkeershoof by die Ashton-verkeersdepartement, tronkstraf van 14 jaar en ses maande opgelê is.
Jason Naidoo is op sy beurt vir 14 jaar tronk toe gestuur.

Die driestuks se skuldigbevinding en vonnisse volg nadat lede van die publiek die amptenare omgekoop het om rybewyse te bekom.
Luidens getuienis wat deur die senior staatsadvokaat Thersia du Toit gelei is, het die ondersoek begin toe ‘n afgetrede kaptein van die Wes-Kaapse direktoraat vir prioriteitsmisdaad-ondersoeke WhatsApp-gesprekke in ‘n onverwante ondersoek na Naidoo blootgelê het.

Die betrokke boodskappe het Naidoo se reëlings om leerlinglisensies by die Ashton-verkeers­afdeling op onwettige wyse te bekom, blootgelê.
Verdere ondersoek het ‘n skema ontbloot waarby Davids en Dondolo betrokke was, wat die uitreiking van leerlinglisensies sonder behoorlike toetsing gefasiliteer het.

Naidoo het aangebied om leerlinglisensies vir vier volwassenes en ‘n minderjarige te reël sonder dat hulle die toets hoef te slaag. Op 19 April 2016 het hierdie groep die Ashton-verkeersdepartement besoek om hul toetse te bespreek.

Bewyse het aan die lig gebring dat Naidoo die minderjarige opdrag gegee het om as deel van die betaling aan ‘n seksuele aktiwiteit met Dondolo deel te neem, met hom (Naidoo) wat voor die besprekingsdatum suggestiewe foto’s van haar op WhatsApp aan Dondolo gestuur het.
Op 25 April 2016 het Naidoo se gewese vrou in opdrag van hom R2 500 via Shoprite Money Market aan Davids en Dondolo betaal.

Die volgende dag het Dondolo Naidoo versoek om die name van die toetskandidate te stuur. Naidoo het toe die name aan beide Dondolo en Davids gestuur.
By die toetsfasiliteit het Davids vir die kandidate toegelaat om slegs ‘n paar lyne van die toets te voltooi voordat hulle hulle verskoon het en hul leerlinglisensies uitgereik is.
Nadat die groep vertrek het, het Davids en Dondolo die geld wat tot hul voordeel gedeponeer is, onttrek deur die verwy­singsnommers en PIN-kodes te gebruik.

• Twee van die mense wat leerlinglisensies deur hierdie skema bekom het, is op 10 Maart 2017 ingevolge artikel 4(1)(b) van PRECCA skuldig bevind nadat hulle pleit- en vonnisooreen­komste met die staat aangegaan het.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article