Skool baie trots op sy

Ná drie jaar se harde werk is Hoërskool Hexvallei in De Doorns onlangs met ’n gesogte Ekoskool-groenvlag by die jaarlikse Wessa-Ekoskool-prysuitdeling beloon.


Ná drie jaar se harde werk is Hoërskool Hexvallei in De Doorns onlangs met ’n gesogte Ekoskool-groenvlag by die jaarlikse Wessa-Ekoskool-prysuitdeling beloon.

HS Hexvallei was die enigste skool in die Wynland-distrik wat dié prys ontvang het. Die geleentheid is by Groenpuntpark in Kaapstad aangebied.

Maja Palm, ’n koördineerder van die projek en ook ’n betrokke ouer, verduidelik die vereistes vir die prys: “Volgens die internasionale ekoskool-program, wat in 67 lande aangebied word (sedert 2003 in Suid-Afrika) en die Caps-kurrikulum ondersteun, moet ’n skool elke jaar ’n projek suksesvol aanpak wat op plaaslike omgewing- en gesondheidsake fokus,” sê Palm.

Hoërskool Hexvallei het in 2016 by Wessa se ekoskoolprogram aangesluit en ’n herwinningsprojek van stapel gestuur. “Herwinning is as die eerste projek geïdentifiseer en danksy ondersteuning van die gemeenskap en flukse ouers en leerders is 450 ton karton die afgelope drie jaar herwin,” sê Palm.

“Gesond leef” was die skool se tema vir 2017 en van toe af verkoop die skool se snoepie slegs gesonde en tuisgemaakte goedere.

Verlede jaar het die Hexies besluit om ’n water- en elektrisiteitsoudit by die skool te doen en hulle het dadelik met water- en elektrisiteitsbesparingsmaatreëls begin, soos die opvang en gebruik van reën- en gryswater asook die installering van energiebesparende ligte. “Een projek was nie laasjaar genoeg vir ons nie, dus het ons begin om slegs bio-afbreekbare kosverpakking op sportdae te gebruik. Geen plastiekstrooitjies word ook meer verkoop nie en herwinningsdromme word op verskeie plekke op sportdae uitgesit,” sê Palm.

“Groen en gesond leef is al só deel van die Hexie-kultuur dat jy elke dag die meeste leerlinge met sakke vol karton, doppies of kanne met gryswater sien skool toe stap. Aan die einde van elke jaar word nie net sport en akademie by die prysuitdeling beloon nie, maar groenkampioene word ook aangewys. Griffin Pieterse, ’n Graad 7-leerder, het verlede jaar die Breedevallei-munisipaliteit se burgemeestersprys vir sy ywerige deelname aan die skool se herwinningsprojek ontvang. Hy het met sy projek sy hele gemeenskap geïnspireer en gemobiliseer om saam met hom doppies en karton te versamel,” sê Palm.

Die skool het reeds met vanjaar se projek, die maak van “eco bricks”, wat deel is van ’n wêreldwye projek om plastiekrommel as boumateriaal te gebruik, begin.• Besoek www.wessa.org.za om jou skool ook as ekoskool te registreer.

You need to be Logged In to leave a comment.