Skool blink provinsiaal en nasionaal uit

Hexvallei Sekondêr op De Doorns het vanjaar ’n besondere jaar agter die rug. Dié skool het verskeie titels verower en op nasionale asook provinsiale vlak uitgeblink.


Hexvallei Sekondêr op De Doorns het vanjaar ’n besondere jaar agter die rug. Dié skool het verskeie titels verower en op nasionale asook provinsiale vlak uitgeblink.

Dit is veral op die gebied van sport waar Hexvallei Sekondêr uitmuntend presteer het. Die skool se o. 18A skaakspan is gekroon as die Wes-Kaapse kampioene vir 2015. Melanie Swarts wat deel is van dié gedugte span het tweede geëindig in die Suid-Afrikaanse ope vir vroue.

Hexvallei se o. 19A rugbyspan het ook geskiedenis gemaak toe hulle vir die eerste keer aan die FNB Classic Clashes rugbykompetisie deelgeneem en dit gewen het.

Dié span het ook tweede ge­ëindig in die Besigheid-teen-misdaad-toernooi waar Damian Voeler ook as die speler van die toernooi aangewys is.

“Hierdie o. 19 span is een van ons beste rugbyspanne in jare. En ons is baie trots op hulle prestasies,” het spanbestuurder, Melvin Olsen, gesê.

Die skool het hulle ook vanjaar toegespits op gemeenskaps- en omgewingsprojekte. Hulle het deelgeneem aan die Departement van Kultuur en Sport- (DCAS) progam en het hande gevat met ander agtergeblewe skole in die vallei.

“Ek kan met trots sê ons is die stigters van de DCAS-program,” sê Pathula Challan, koördineerder vir die program.

Die DCAS-program lei leerders op in musiek en onderrig hulle in onder andere blokfluit, sang, viool en klavier.

“Die leerders geniet hierdie program baie en dit leer hulle om te droom en hard te werk,” het Challan gesê.

’n Ander projek waarop die skool ook trots is, is Project Citizen.

Project Citizen is ’n gemeenskapsprojek wat jeugdiges help om volhoubare projekte te begin en so ’n verskil in die samelewing te maak.

“As deel van die projek identifiseer die leerders sogenaamde probleme in die gemeenskap.

“Hulle kyk dan wat die staatsbeleid is aangaande die probleem, asook die skolebeleid. Die leerders werk dan ’n aksieplan uit wat hulle dan aan die parlement voorlê,” verduidelik Corné de Vlam, koördineerder van Project Citizen.

Die skool het op 17 Oktober hulle projekvoorlegging in die parlement in die Kaap gedoen en het baie goed gevaar.

“ Ons is trots daarop dat ons die eerste skool in die Kaapse wynlanddistrik is wat aan hierdie projek deelgeneem het.

“Vir ons eerste keer het ons baie goed gevaar en ons wil volgende jaar daarop voortbou,” het De Vlam gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.