Skool groei en heet nou Laerskool Wynland

Worcester Voorbereiding staan nou as Laerskool Wynland bekend nadat dié skool in die afgelope vier jaar gegroei het tot ’n volwaardige laerskool van gr.R tot gr.7.


Worcester Voorbereiding staan nou as Laerskool Wynland bekend nadat dié skool in die afgelope vier jaar gegroei het tot ’n volwaardige laerskool van gr.R tot gr.7.

Standard het by die hoof, Liezel van der Westhuizen, gaan hoor wat die nuwe naam vir die skool beteken.

“Die proses het verbasend vinnig verloop en dit het net twee maande geneem om die naam van die skool te verander. Ons is baie beïndruk met hierdie proses,” sê Van der Westhuizen.

Die skool sien uit om ’n groter groep kinders by Laerskool Wynland te verwelkom en die volgende generasie te inspireer om ’n verskil in die gemeenskap te maak.

“Dit is vir ons belangrik om nie ons waardes te verander nie. Dit bly dieselfde. Ons het nou net ’n ander naam. Ons doel is steeds om die kinders holisties vir die res van hul lewe voor te berei en ons maak seker die kinders se behoeftes word eerste gestel.”

By Laerskool Wynland poog die personeel om kinders se sosiale welstand, akademie, sport en kultuur te gebruik om die kind se lewe te verryk.

“Ons gaan binnekort die naamborde verander, maar ons bly steeds die uile in Worcester se gemeenskap en ons gaan steeds dieselfde embleem behou.”

Laerskool Wynland spog met uitstekende onderwysers wat trots daarop is om goeie gehalteonderwys aan al die leerders te bied en hul behoeftes eerste te stel.

“Die skool is tans besig om ook die gebou uit te brei om die groter groep leerders te huisves. Ek en die res van die personeel sien uit om die nuwe ontwikkeling aan te pak en ’n sukses daarvan te maak,” sê Van der Westhuizen.

You need to be Logged In to leave a comment.