’n Laerskool in Worcester het vanjaar die eerste keer in sy 86-jarige bestaan ’n dramagroep begin om die leerders ’n geleentheid te bied om hulle uit te leef.
Volgens die Worcester N.G.K. Oefen Primêre Skool is dit alombekend dat nie alle leerders akademies sterk of selfs sportsterre is nie. Dus het die skool ’n dramakode gestig om vir alle leerders ’n platform te skep waar hulle hul talente ten volle kan uitleef en ontwikkel.
Die naam van die dramagroep se eerste toneelstuk was Mik jy net hoog.
Hierdeur het die skool erkenning gegee aan legendariese leerders wat uit N.G.K. Oefen PS se skoolbanke kom, asook aan die onderwysers wat hulle help vorm het tot die sterk en suksesvolle individue wat hulle vandag is.
Volgens Whinique Willemse, die organiseerder, probeer die skool om vir alle leerders hoop te skep om te besef hul omstandighede kan verbeter.
“Daar is hoop buite jou huidige omstandighede om sukses te bereik asook om Worcester N.G.K. Oefen PS se leuse, ‘Mik Hoog!’ uit te leef,” sê sy.
Die gaste is deur die gaskunstenaar Elwira Standili, ’n oudleerder en Idols-deelnemer, vermaak. Sy het haar nuutste lied, Sy Hand, gesing.
Volgens Wilemse pas die lied ook by hul toneelstuk, wat ’n historiese blik oor Oefenskool en sy legendes gee.
“Die lied simboliseer die werklikheid wat ons daagliks ervaar, en ja, daar was struikelblokke deur die jare, maar dit was slegs ‘die Hand van die Heer’ wat ons gedra het tot waar ons vandag is,” sê Willemse.