Skool sal hoof se passie en omgee mis

Na 19 jaar as skoolhoof van die Hoërskool Montana het Gerhard Biesenbach besluit om die tuig neer te lê en die onderwys vaarwel te roep.


Na 19 jaar as skoolhoof van die Hoërskool Montana het Gerhard Biesenbach besluit om die tuig neer te lê en die onderwys vaarwel te roep.

Volgens die personeel van Hoërskool Montana het Biesenbach in sy 19 jaar as hoof ’n verskil in honderde jongmense se lewe gemaak en die skool uiters professioneel en goed bestuur.

Hulle meen sy sin vir humor, omgee en belangstelling in leerders en sy personeel se lewe is van sy beste eienskappe wat by dié skool baie gemis sal word.

Biesenbach was nog altyd baie gesteld op die netheid van die skoolterrein en het talle bakens opgerig wat as nalatenskap sal dien vir toekomstige sowel as oud-leerders van die skool.

Die bou van die sportsentrum, pawiljoene, kafeteria en albei ingange van die skool getuig hiervan.

Sy liefde vir die natuur is ook sigbaar in die skool se karootuin.

“Meneer Biesenbach het diep spore by die skool getrap en sy skoene sal moeilik gevul word. Hy sal beslis deur baie leerders gemis word. Ons vertrou dat ons hom nog baie sal sien, aangesien hy nie van plan is om Worcester dadelik te verlaat nie,” het Jacques Steyn, een van die departementshoofde by die skool, gesê.

Gizela Jordan, ’n gr. 8-leerder het gesê: “Meneer Biesenbach se omgee en liefde vir hierdie skool is regtig ongelooflik.”

“Dankie dat meneer altyd in my geglo het – niks anders het vir my soveel selfvertroue gegee soos dit nie,” het Philip Steenkamp, ’n gr. 11-leerder, gesê.

Biesenbach se passie vir mense, sy omgee en sy ondersteuning is iets wat Hoërskool Montana vir ’n lang tyd sal koester.

You need to be Logged In to leave a comment.