Die HTS Drostdy het met sy afgelope revue bewys dat dié skool se musiek en kultuur talent van uitstaande gehalte toon.
Met Drostdy se vorige produksie is die skool as die naaswenner van die kykNET-revuekompetisie aangewys.
Die revue se tema vir vanjaar was “Liefde”. Die storie is losweg op die liefdesverhale van Romeo en Juliet en Troy gegrond.
Volgens die produksiespan, wat deur Rensia Vermeulen en Pieter Ras gelei is, het die koperblaasorkes, koor, drama- en dansgroepe van die skool in groot getalle deelgeneem.
Die produksie is ná maande se toegewyde oefening in die laaste week van die Julie-skoolvakansie afgerond toe ’n revuekamp by die skool gehou is. Vermeulen sê elke lid van die groep, asook vrywilligers agter die verhoog, het alles gegee om van die produksie ’n sukses te maak.
Twee van die onderwysers wat met die choreografie gehelp het, Sueanne Swart en Tarien de Wet, het die beweging op die verhoog op ’n unieke wyse met die tema laat saamsmelt.
Groot lof het ingestroom vir die sangtalent van die vier hoofkarakters, vertolk deur JP le Roux, Etloné Nolte, Philip Alberts en Brooklyn Moffat.
Drostdy het ook ’n gratis vertoning vir senior burgers aangebied.