’n Besondere eer het die Orchard Primêre Skool buite Worcester te beurt geval toe besoekers al die pad van Amerika ’n draai by hulle gemaak het.
- Die besoekende studente van die 2 Oceans Education Foundation het die skool besoek as deel van ’n uitruilstudentprogram tussen die stigting, die Eastside High School, en Georgia State University in Atlanta, Amerika.
Die aanvoerwerk is deur die stigting se Saadiq Albertyn gedoen wat Danver Olsen, ’n onderwyser by Orchard Primêr, genader het om te hoor of dié skool nie deel van die uitruilstudentprogram wil wees nie.
Albertyn het ook bevestig dat prof. Jami Berry van die Georgia-universiteit en Ammi Cumming, ’n verteenwoordiger van die administrasiedepartement van die Eastside High School, en studente verbonde aan dié universiteit die skool sal besoek.
Die doel van dié geleentheid was om die moontlikhede te ondersoek in hoe ’n mate leerders aan Orchard Primêr en die 2 Oceans Education Foundation en sý vennootskappe met onder meer die Georgia State University by dié uitruilstudentprogram kan baat.
Met hul besoek aan Orchard Primêr het die studente die skool se gr. 4-leerders met ’n ete, wat hulle self voorberei het, bederf.
Volgens Orchard Primêr se hoof, John Harmse, was hy beïndruk deur 2OEF se innoverende leierskap deurdat hy self na die skool uitgereik het om vas te stel hoe leerders van Orchard kan baat by ’n vennootskap. Harmse het met die studente se besoek die skool en sy leerders se agterstand en uitdagings verduidelik en het enige hulp wat tot die verbetering van die leerders se lewe kan lei, verwelkom.
Van die leerders van Eastside High School, Dory Berry, Lauren Cumming en Ashley King, was veral beïndruk met Orchard-leerders se dansvaardighede en hul musiekkennis. Hulle het die besoek beskryf as ’n ongelooflike ervaring wat hulle nooit sal vergeet nie.
Die skool sien uit na die volgende stap in sy vennootskap met sy nuwe bondgenote.