Vyf fietsryers van die Primêre Skool Worcester beplan om aan die einde van die jaar een van die moeilikste bergfiets-uitdagings op aarde aan te pak.
Die skoolhoof, twee onderwysers, ‘n ouer en ‘n ondersteuner van die skool gaan van 26 November tot 1 Desember aan die Munga Equipe deelneem. Dié aflos-ren oor ‘n afstand van meer as 1 000 km spring in Bloemfontein weg en eindig by die Doolhof-wynplaas in Wellington. In die vyf dae wat die ren duur, pak Wimpie Blom, André Cilliers, Ilze Cordier, Ryno Palm en Jaco van Dyk die wye en harde landskappe van die Karoo in ongenadige somerhitte aan.
Die doel van dié vyf se uitdaging is om geld in te samel om jonger kinders, wat ‘n kans in die lewe nodig het, te help. Die geld sal aangewend word vir noodsaaklike skoolbenodigdhede, deelname aan opvoedkundige aktiwiteite, sportaktiwiteite en sporttoere en om gelyke geleenthede vir elke kind te skep om tot sy/haar volle potensiaal te ontwikkel.
Die voorbereiding vir die groot uitdaging het reeds begin.
• Volg die vyf se vordering op die skool se Facebook-blad. Stuur e-pos aan wblom@cwps.co.za om betrokke te raak.