Met die ongelykhede in Suid-Afrika weens die newe-effekte van Apartheid het ons ryk, superryk, arm en brandarm skole.
Ouers kan self besluit waar hulle hul kinders inskryf, maar het skoolfonds (dit wat ouers elke maand aan hul kinders se skole betaal en soms ook deur die skool daarvoor gedagvaar word) ’n invloed op die gehalte van die kind se onderrig?
Onderwyskenners is van mening dat dit ’n baie ingewikkelde vraagstuk is en ek stem saam met hul kundige mening. Suid-Afrika het sowat 24 000 openbare skole, waaronder gewese Model-C-skole, wat nou weens verskeie faktore ook maar finansieel swaar trek. Deesdae kry Covid-19 die skuld vir alles in die land. Voorheen was dit juis gewese suiwer wit skole wat ’n groter toekenning van die staat gekry het om die beste onderwys vir witmense te verseker. Vandag is die situasie omgekeer en kry bruin-, swart- en township-skole meer geld van die departement van basiese onderwys. Hierdie jaarlikse subsidie aan skole word deur wetgewing en sekere beleidsvoorskrifte bepaal.
’n Verkeerde persepsie bestaan by baie ouers dat hul kinders ’n beter opvoeding by gewese dorpskole (Model C-skole) teenoor skole in hul eie woonbuurte sal kry. Ons is in die middel van die vierde Nywerheidsrevolusie en ouers se definisie van sukses en gehalte-onderwys hou lankal nie meer tred met die praktyk nie. Onderwys in SA klou vas aan outydse denke dat ’n matrieksertifikaat uitgereik deur Umalusi, of ’n universiteitsgraad vir ’n jong mens, werk waarborg. Vandag sit gegradueerde jongmense werkloos ongeag die kleur van hul vel. Kinders wat in sogenaamde private skole was waar ouers elke maand ’n plaas se prys vir gehalte-onderwys betaal het, sukkel om werk te kry.
Suid-Afrika kan teen 2030 ’n akademiese versadigingspunt bereik waar ’n akademiese agtergrond en kwalifikasies niks werd is nie. Tekens hiervan is reeds oral in ons land sigbaar, maar steeds kan Angie Motshekga nie haar oë oopmaak nie. Ek wens iemand wat onderwys in wese verstaan kan die nasionale minister van onderwys in die plek van die bestaande minister word, wat glo sy weet wat in die onderwyslandskap aangaan. Sy maak elke jaar ’n gedruis met haar uitsiglose toesprake oor fiktiewe matriekuitslae terwyl skole nie eens krag en water het nie en puttoilette gebruik.
In my dorp verkies ’n plaaslike myngroep om in ’n veeldoelige sentrum te belê “to boost the image of the town” in plaas van ’n tegniese kollege op te rig waar jongmense met die nodige skaars vaardighede toegerus kan word.
Vaardigheidsontwikkeling in skole en universiteite word steeds verwaarloos en te veel klem word steeds op akademie en goeie skole wat goeie punte waarborg, geplaas.
Prysuitdelings by skole is ’n mooi gebaar om hardwerkende leerders te beloon, maar dis ’n absolute klug omdat daai einste slimkop ná gr. 12 sonder werk sit. –
. Ons gesels aanstaande week verder hieroor. Edward Smith is ’n voormalige onderwyser en vryskutjoernalis.