Skoolhoof by sy alma mater

Hilton May het Maandag 1 April die leisels as hoof by die Hoërskool Breërivier (HB) amptelik oorgeneem. Dié boorling van Worcester werk al van 1987 af by die skool, en is al die afgelope 10 jaar die adjunkhoof.


Hilton May het Maandag 1 April die leisels as hoof by die Hoërskool Breërivier (HB) amptelik oorgeneem. Dié boorling van Worcester werk al van 1987 af by die skool, en is al die afgelope 10 jaar die adjunkhoof.

May het ’n BA-graad met Afrikaans en geskiedenis as hoofvakke aan die Universiteit van Wes-Kaapland verwerf en vir ’n graad in onderwysbestuur aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

May beskryf sy leierskapstyl as ’n deursigtige, deelnemende bestuurstyl. Hy som sy karakter in drie eienskappe op: “Warm, omgee en mens.”

Hy sê as skoolhoof wil hy nog baie by HB bereik.

“Die skool se visie is om meer vaardigheidsontwikkelingskursusse vir leerders te vestig sodat die leerder sy volwaardige plek in die samelewing en werkterrein kan inneem.

“Ek wil graag die skool se matriekuitslae tot 85% en beter herstel en die geleenthede vir leerders skep om op alle vlakke by skool uit te blink,” sê May.

“HB lê my baie na aan die hart – dit is my alma mater. Ek ken die personeelopset en het hegte bande met ons personeel gevestig, wat samewerking by die skool nou seepglad laat verloop,” sê May.

Onder sy leiding word ’n tweede groep leerders binnekort oorsee gestuur. “Die eerste groep is verlede jaar Duitsland toe; vanjaar se groep is vier fietsryers wat in België gaan meeding,” sê May.

May is nie die enigste wat by die skool in ’n nuwe pos is nie: Owen Anthony is as nuwe adjunkhoof by die skool aangestel.

You need to be Logged In to leave a comment.