Ná 35 jaar groet Amadeus Neethling vir Worcester Sekondêre Skool.
In 1986 het hy as jong onderwyser sy loopbaan by die skool begin en tree nou as hoof van die skool af. Neethling kom uit ’n onderwysfamilie en dit het natuurlik sy loopbaankeuse beïnvloed.
“My pa was ’n hoof en my ma was ’n onderwyser. Dit het beslis my en my susters se keuses beïnvloed toe ons moet kies watter loopbaan ons wou volg,” verduidelik hy.
Neethling sê die afgelope 35 jaar was vir hom ’n gemengde sak van emosies wat betref hoe dinge voortdurend verander het.
“ ’n Mens se emosies hardloop mos maar weg met jou, maar jy moet met verandering saamleef. Dit was interessant om te sien hoe die manier waarop lesse aangebied en met wat dit aangebied word, verander het. Ons het begin met swartborde en nou gebruik onderwysers oorhoofse projektors, wit borde en rekenaars om hul lesse aan te bied.”
Hy meen dis sy passie vir kinders wat hom so lank in die onderwys gehou het.
“Ek het ’n groot passie vir kinders en die bydra tot opheffing van die gemeenskap. Ek dink wat my ook oor die jare heen gemotiveer het, was wanneer ’n mens jare later suksesvolle oudleerders raakloop. Dit was nog altyd bevredigend om te sien hoe jy as onderwyser ’n positiewe bydrae tot iemand se lewe kan maak.”
Aan die begin van die jaar het Neethling besluit om in die ouderdom van 57 op vervroegde aftrede te gaan.
“Ek dink in elke een se lewe kom daar ’n tyd wanneer jy daai gevoel kry dat dit tyd is om aan te beweeg. Ek het daardie gevoel aan die begin van die jaar gekry. Ek het eers gedink dis ’n fout wat ek maak, maar soos die einde van die skooljaar nader gekom het, het ek net meer en meer besef dis die regte besluit wat ek geneem het,” sê Neethling.
Maar hy bieg ook dat hy wel die skoolgemeenskap gaan mis.
“Kyk, die verlange sal maar altyd daar wees. Maar ek wil graag die skoolgemeenskap alle voorspoed toewens. Mag daar nog vele helde en groot figure uit daardie skoolgemeenskap kom.”
Vir eers sien die toekomstige afgetredene daarna uit om vakansie te hou sonder om bekommerd te wees oor die volgende jaar se beplanning.