‘n Man het ‘n vrouebeampte se vuurwapen afgeneem en ‘n ander lid daarmee geskeit. Foto ter illustrasie

Credit: Nthabiseng Madumo

Worcester se polisiekantoor was in Desember omtrent in rep en roer toe ’n man ingestap en ’n vrouebeampte se wapen in die hande gekry het.

Volgens die polisiewoordvoerder AO Vathiswa Jacobs het die 24-jarige verdagte by die gemeenskapsdienssentrum (aanklagkantoor) ingestap en na die agterplaas-ingang gegaan.

“By die agterplaas-ingang het die verdagte ’n polisielid in ’n hoek gestamp en vasgedruk. Sy het oor die asblik op die grond geval. Tydens die gestoei het die verdagte daarin geslaag om haar 9 mm-Z88-pistool, wat met 15 patrone gelaai was, af te neem en die verbindingskoord waarmee die vuurwapen aan haar vasgemaak is, te ontkoppel,” verduidelik Jacobs.

Die man het toe van die polisielid af weggestap terwyl hy die pistool in sy eie mond gedruk het in na wat gelyk het asof hy selfdood wou pleeg.

Die man is na die buitekant van die polisiekantoorgebou en het in Adderleystraat in die rigting van die Worcester-landdroshof gegaan. Hy is deur ’n lid van die gemeenskap buite die polisiegebou in die straat opgemerk terwyl twee polisielede hom versigtig agtervolg het.

“Die verdagte het omgedraai en twee skote op die twee polisiebeamptes afgevuur.

Een van hulle het teruggeskiet.

Die verdagte het in die kruisvuur beserings aan albei sy bene opgedoen en is deur ’n lid van die gemeenskap vasgegryp. Die polisielede het die verdagte in hegtenis geneem en op die vuurwapen, wat aan die polisie behoort, beslag gelê,” noem Jacobs.

Die man word nog aangehou en sal van roof, poging tot moord, die afvuur van ’n vuurwapen, besit van ’n vuurwapen sonder ’n lisensie en besit van ammunisie aangekla word.

Die man is na die Worcester-hospitaal geneem en is onder polisiebewaking totdat hy ontslaan word of geskik is om in die hof te verskyn.

Jacobs sê die polisielid wie se vuurwapen in die voorval gebuit is, was aan diens vir spesiale operasionele pligte.

Sy het beserings aan haar regterskouer en regtergewrig opgedoen. Sy sal mediese bystand en berading by die polisie se werknemersgesondheid- en welstandprogram ondergaan.

Die ander twee polisielede wat in die kruisvuur was, het geen beserings opgedoen nie, maar sal ook berading ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.